Kerskonsert ‘n fees van klassieke kersmusiek
'n Bonus is dat daar hierdie jaar twee konserte is wat plaasvind

Goeie nuus vir alle liefhebbers van klassieke musiek is dat die gewilde Deo Gloria Kerskonsert vanjaar weer in die NG Kerk in Vredefort aangebied word.
‘n Bonus is dat daar hierdie jaar twee konserte is wat plaasvind: Saterdag, 23 November om 19:00 en Sondag, 24 November om 11:00.
Die Deo Gloriakoor, onder leiding van Erna Rademan en Marli Krüger, het sedert sy ontstaan in 1998 mense van oraloor met ‘n uitsonderlike program van gewyde en kersmusiek verras.
Die koorlede bestaan uit ongeveer 60 inwoners van die Noord-Vrystaat en Noordwes provinsies wat ‘n passie vir koorsang deel.
Die koorlede se ouderdom wissel tussen 10 en 65 jaar.
Die sprankelende program beloof om vanjaar in almal se smaak te val.
Vele bekende en geliefde kersliedere word ook deur die koor, soliste en gehoor gesing.
Die koor sing vanjaar saam met liriese sopraan Marguerite van Wyk van Potchefstroom, en word begelei deur die Bochabela Strings van Bloemfontein.
Die strykorkes is senior lede en onderwysers van die Mangaung Strings Programme wat sterk bande met Parys en Vredefort het. ‘n Hele paar plaaslike strykers sal ook in die groep wees.
Kaartjies kos R130 vir volwassenes en R50 vir kinders tot graad sewe.
Dit is beskikbaar by alle koorlede, asook by Liewer Koffi en La Vie en Rose in Breëstraat. Kaartjies verkoop jaarliks vinnig, dus is dit raadsaam om dit so gou moontlik aan te skaf.
Vir meer besonderhede, kontak Erna Rademan by 082 565 1085.



