Prof Hans: Min het ons geweet dit sou die laaste keer wees
Sy nalatenskap tot die Afrikaanse taal en skryfkuns is onmeetbaar.
Prof. Hans du Plessis, geliefde Afrikaanse skrywer en akademikus, wat veral bekend was vir sy verwerking van die Psalms in Griekwa-Afrikaans, is gisteraand (Vrydag 25 Oktober) enkele maande voor sy 80ste verjaardag in Potchefstroom oorlede. Hy sou in Januarie 80 geword het.
Prof. Hans was verlede Saterdag nog in Parys waar hy ‘n skryfwerkskool van die ATKV-tak Vredefort Koepel gelei het. ‘n Voorreg wat die 24 aspirant skrywers gehad het om te kon leer van ‘n man wat nie net ‘n leeftyd se kennis en passie vir die Afrikaanse taal en skryfkuns gehad het nie, maar as mens ‘n besondere diepte gehad het wat jou opgeval het die oomblik wanneer jy met hom gepraat het.



Prof. Hans het vroeër vanjaar ‘n ligte beroerte gehad maar volledig herstel. Hy het Vrydagaand inmekaar gesak by die tehuis in Potchefstroom waar hy en sy vrou, Magdaleen gevestig was.
Sy bydrae tot die Afrikaanse taal is onmeetbaar.
Hy debuteer in 1979 met Kleinwild, en volg daar oor die jare 160 publikasies uit sy bekroonde en talentvolle skrywerspen. Hieronder tel Disse flippen stukkend wêreld dié, my ou – ‘n jeugverhaal wat jou swaarkry saam met tieners laat ruik, proe, hoor en voel.
Dan was daar die ewe aangrypende Verbrande Paradys wat die gebeure van ‘n vernietigende brand in die Vredefort Koepel vasvang en jou die seer van slagoffers van hierdie rampe om ons laat beleef. Vir hom was die Vredefort Koepel ‘n hartsplek en het hy en sy vrou die plot Rhebokkop aan Vrystaat-kant van die Koepel gehad tot 2020.
Hy het die kuns verstaan om ‘n storie te sien en te hoor, en die storie- en spanningslyn soos ‘n rugstring aanmekaar te ryg, soos hy ook op sy besondere manier gedeel het tydens die skryfwerkskool in Parys. Hy het toe ook vertel van sy nuutste roman wat in Februarie 2025 sal verskyn.

Oor dekades verwerf hy onder meer die C.R, Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie, en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre.
Sy verwerkings van Psalms en Spreuke en gedeeltes van ander Bybelboeke in Griekwa-Afrikaans, het wye bekendheid met onder meer die gepubliseerde werke Gewete van glas, Die Griekwapsalms en annerlike goeters yt die Woord yt, Innie skylte van die Jirre, Boegoe vannie liefde, Hie neffens my en Karos orie dyne.
Prof. Hans was vir baie jare verbonde aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus en het baie gedoen om mense bewus te maak van die belangrikheid van die bewaring van Afrikaans en moedertaalonderrig.
Hy het ook ‘n besondere bydrae gelewer tot die skryfkuns met onder meer Skryfnet wat as skryfskool vir Maroela Media begin is, en sy betrokkenheid by skryfskole en skryfwerksinkels.
Prof. Hans sal onthou word as stryder vir Afrikaans, navorser, digter, skrywer, diep mens met ‘n fyn humorsin, ‘n mentor, ‘n nederige mens. Iemand wat ‘n kosbare nalatenskap vir Afrikaans geskep het.
Hy word oorleef deur sy vrou, Magdaleen, sy vier seuns en skoondogters, Rudolph en Marié, Louis en Jolandi, Hansie en Marthle en Tjaard en Ilzé, asook sy nege kleinkinders.
“Dit was ‘n voorreg om jou te ken, prof. Hans. Min het ek kon dink dat jou e-pos boodskap Vrydagmiddag met die woorde, “Dankie vir ‘n mooi berig” na verlede naweek se skryfwerkskool ons laaste kommunikasie sou wees. Jou nederigheid en oë waarmee jy na die wêreld gekyk het, het ‘n blywende indruk gemaak. Wat jy hier agtergelaat het, sal voortleef in ons harte” – red.



