Local newsNews

Soet sisters gaan jou verlei by dié mark

"Ek dink die geheim van 'n lekker koeksister lê by die deeg," vertel sy, "want die deeg moet genoeg rys en stroop trek."

Druppend van die stroop, of droër met minder stroop. Hoe jy die gevlegde sisters ook al verkies – jy sê nie nee vir hulle nie, Allermins as dit by die kampioenpaar van Sally Martin Park se koeksisters kom.

Willa en Johanna Rademeyer het immers nie verniet in 2015 die koeksister-kroon weggevleg voor die hande van die land se bobaas bakkers in Solidariteit Helpende Hand se Stoofstories: Koeksisterkompetisie nie.
Dit is dié einste kampioen koeksisters, hul tuisgebakte koekies en heerlike beskuit, tesame met ander inwoners van Sally Martin Park se uitstaande en kreatiewe handgemaakte items en tuisgemaakte lekkernye, waarvoor Parysenaars Saterdag 16 November kan toustaan wanneer dié aftreeoord sy eerste kersmark hou.

Die kuns van koeksisters bak is deur die Rademeyers oor twee dekades vervolmaak. Die koeksisterbakkery het eintlik by hul destydse gemeente in Vaalpark begin, vertel hulle. Die kerk het nie oor Desembers gebak nie, maar die vraag vir die lekkerny het gebly. So het dit gekom dat Johanna by die huis begin koeksisters bak het. Op ‘n dag het Willa gevra om hand by te sit. Sedertdien werk dié twee pare hande soos ‘n geoliede masjien om kilogramme se koeksisters weekliks te maak.

Saans word die deeg en die stroop voorberei en wanneer die son kop uitsteek is hulle al hard aan die werk om die deeg te draai. Kort-kort hoor jy die stophorlosie en is die 84-jarige Willa flink op om die koeksister in of uit die olie te kry. Die stroopkokery en bakwerk is sy spesialiteit. Die 80-jarige Johanna is die een wat die deeg maak en wie se hande die vinnigste die deegstringe kan draai.

“Ek dink die geheim van ‘n lekker koeksister lê by die deeg,” vertel sy, “want die deeg moet genoeg rys en stroop trek.”

Net die draai en die braai van die koeksisters neem vier ure om 23 pakkies van 500g elk te kan lewer.

Mense ken W&J Koeksisters – van die Vaaldriehoek tot hier in Parys waar hulle 10 jaar gelede kom nesskop het.

By al wat tuisnywerheid en deli is, sien jy hul netjiese koeksisterpakkies, en “jy sal nie een pakkie kry wat nie 100% op gewig is nie,” sê Johanna trots as sy vertel dat die twee van hulle al tot 80 pakkies koeksisters op ‘n dag gemaak het. “Dit is ons brood en botter.”

Die vraag na dié heerlike soetgebak is groot veral vir funksies. Die Rademeyers bak Maandae en Woensdae om die Vaaldriehoek se bestellings te kan lewer, en op ‘n Donderdag, Vrydag en Saterdag vir Parys se bestellings.

Nooit word daar in die ure se saamwerk baklei nie – die lewe is té kort daarvoor sê hulle, en voeg by dat respek vir mekaar die geheim is wat hulle saam gevleg hou vir 57 jaar al. ‘n Saamwees-vreugde wat elke nou en dan kreukel oor die twee gesigte waar hulle die deeg sit en draai.
Hulle het nie ‘n huishulp nie en wanneer die koeksisters vir die dag klaar is, is dit lekker om net so bietjie die voete op te tel, sê hulle. “As ons skip kom sal ons ophou koeksisters bak,” maar tot dan sal jy hulle – solank die hande kan – hard aan die werk kry om koeksisterdeeg te draai, want mense het nog lank nie genoeg gehad van die soete sisters se verleiding.

Willa en Johanna Rademeyer wat saam ‘n gedugte span maak as dit by koeksisters bak kom.

* Die publiek is welkom om vanaf 09:00 op 16 November Sally Martin se kersmark by die Wynn Dedwith-saal te kom ondersteun. Kom maak jou beursie leeg en jou hande vol van die allermooiste en allerlekkerste gemaak deur ons bejaardes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button