Evas sit aan vir ‘n feesmaal
Alle vroue is welkom - oud of jonk, kunstig of nie - daar is plek vir jou

Dit was een vir die boeke toe die Evas kon aansit vir ‘n feesmaal om die jaar se samesyn halt te roep tot volgende jaar.
Die feesmaal was die hoogtepunt van ‘n jaar waar baie bymekaar geleer is, en die nuut geleerde vaardighede ook gewys is op die kleurvol gedekte tafels. Van ‘n high tea in pienk, tot ‘n tikkie Hollandse romantiek, en die swier van Glitz, glammer en kristal.
Kos was daar in oorvloed om aan te pik en te proe. So ook die groep vroue se hegte vriendskap en samesyn wat gesmee is met die maandelikse saamkuier-oggende waar asem geskep is van elke dag se gejaag.
Vanjaar is van papiervoukuns, basiese macramé en kleimodellering geleer, en koekie versiering en decoupage gedoen.
Daar is gehekel, geleer om ‘n naweektas vir elke geleentheid met die minimum te pak, en gesels oor die moets en moenies
van grimeer. Marble & hydro dipping het groot byval by die vroue gevind, en voor die groot feesmaal is ook die kuns van tafeldek bemeester.



“Die Eva-inisiatief het begin met ‘n gesprek om ‘n koppie tee waar gesels is oor vaardighede wat verlore gaan met
generasies,” vertel Susan Britz. Saam met haar het Ronel en Marietjie le Roux die begeerte gehad om ‘n plek te skep waar
vroue weer dié vaardighede kon leer om ‘n inkomste daaruit te skep, of sommer net uit te kom en nuwe mense te ontmoet.

Die vroue het aangetrek om by hul Hollandse tafeltema te pas.

Getooi in rooi vir die Kerstema waarvolgens dié vroue hul tafel gedek het.

So is die Eva-saamwees gebore.
“Van die begin was die gedagte om dit wat by die Evas geleer word, gratis aan te bied. Kuns- en handwerkklasse kry jy oral, maar almal kan nie daarvoor betaal nie. Hierdie is God se inisiatief. Ons is net sy hande en voete,” sê die vroue. Geld word daar nooit gevra nie.
Die Evas werk net met donasies om die materiaal te koop wat nodig is vir die projekte. Dit wat geleer word tydens die saamkuier-oggende is die vaardighede van die Eva-vroue wat hulle met mekaar deel. Na die tyd word daar afgesluit met tee, koffie en ‘n versnapering. Alles gratis.
Om die besige skedules van vroue tegemoet te kom, is die heerlike saamkuier en kreatief wees net van 10:00 -12:00 op `n
Saterdagoggend, eenmaal per maand
Met die afsluiting was daar weer heelwat nuwe gesigte, en was die geniet van die saamwees op elke gesig. “Wanneer vroue
vir die eerste keer hier instap sien jy nog ‘n skugterheid, maar wanneer hulle uitstap sien jy die gevoel van behoort, want by die Evas is elke vrou tuis,” sê hulle.
As jy nuwe vaardighede wil aanleer, of jy ander met jou vaardigheid wil bemagtig, skakel Susan by 061 091 4609 om ingesluit te word by die Whatsapp groep.
Alle vroue is welkom – oud of jonk, kunstig of nie – daar is plek vir jou



