Woonstelkomplekstragedie raak harte oor die land heen
Mense van Parys, maar ook in buurdorpe is aangegryp deur die tragedie waartydens vier meenthuise Sondag in 'n brand verwoes is, en 'n bejaarde vrou haar lewe verloor het.
Sedert Sondag se verwoestende brand in Parys waartydens vier wooneenhede by die Heldersig-meenthuiskompleks in puin gelê is, het hulp uit alle oorde ingestroom vir die slagoffers wat deur hierdie onbeskryflike tragedie geraak is.
Dit was ook nie net Parysenaars wie se harte en hande oop was om te help nie. Volgens Sanette Boonzaier van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) is daar selfs skenkings uit buurdorpe en sover as van die Kaap ontvang.
Al die slagoffers is tydelik geholpe met blyplek. Skenkings vir nie-bederfbare kos wat ontvang is, is verdeel onder diegene wat deur die tragedie geraak is.
VVA vrywilligers het sedert Maandag groot werk gedoen om al die klere, beddegoed, linne en huisware te sorteer sodat elkeen van die slagoffers self by die VVA-perseel kon kom kry wat hul nodig het.

Omdat meeste nog nie ‘n permanente blyplek het nie, word die meubels wat ontvang is gestoor en sal ook dit uitgedeel word aan die slagoffers sodra hulle gereed is om dit te ontvang. Alle ander skenkings wat ontvang is, is ook steeds vir die slagoffers beskikbaar om te kom haal soos wat dit benodig word.
Vir nou is in die onmiddellike nood van hierdie mense voorsien, en is daar oneindige dankbaarheid by hierdie slagoffers vir elkeen wat hul harte oopgemaak het om te help. Mense het aan alles gedink met gebare van deernis waarmee daar sedert Sondag uitgereik is.

Spesiale dank aan Sanette Boonzaier, Charisma Boonzaier, VVA-personeel en vrywilligers asook Dorette Nel van WeCare, die trauma-beraders, en elkeen wat die afgelope week gehelp het met die koördinering van hulp en tydelike huisvesting.
Elke daad van omgee, uitreik en ondersteuning het die seer draagliker gemaak.

‘n Lang en moeilike pad lê nog vir elkeen van hierdie mense voor, maar ‘n gemeenskap se liefde dra hulle elke dag.
- As jy dalk ekstra gereedskap het wat jy nie gebruik nie, kan jy op die manier vir Vivian Guthrie help wat al sy gereedskap in die brand verloor het.
Geldelike skenkings vir die brandslagoffers kan in die volgende rekening inbetaal word:
Heldersig Woonstel Beheerraad,
FNB Parys
Takkode 230736
Rekeningnr 62808395538.
Gebruik asseblief die verwysing: Donasie Brand



