Wieke en wiele se Pierre ‘n laaste keer by vliegveld gegroet
Pierre was enig in sy soort. Gaaf en stil, maar met ‘n skerp sin vir humor en altyd bereid om te help.
Vir baie was die naam Pierre Boulogne sinoniem met veteraan motors en motorskoue – nie net in Parys nie, maar ook in omliggende dorpe.
Pierre is verlede week op 84-jarige ouderdom op 28 November na ‘n kort siekbed oorlede. Rustig by sy huis met sy naaste geliefdes by hom, het sy dogter, Thea gesê.
Sy vertel dat haar pa in Bloemfontein gebore is as een van vyf seuns. Pierre se pa was van Nederlandse afkoms, en sy ma se ouers van Wallis
Boomklim, kleilatgooi en tonnels grawe saam met sy broers was hoe hulle die tyd op die plaas, Volmoed, net buite Bloemfontein verwyl het. Later is hulle na ‘n plaas skooltjie en is hy as tiener na President Steyn skool.
Pierre het by die Bloemfonteinse Tegniese Kollege gaan studeer en toe by die SAUK in Bloemfontein begin werk.
Hy bekwaam hom in Pretoria as Elektroniese Ingeneur en tree na 37 jaar diens af by die SAUK.
Dit was ook in Pretoria waar hy, Heilie, die liefde van sy lewe, ontmoet het. Drie kinders is vir die egpaar gebore.
Pierre het in sy lewe vele toestelle ontwerp om die tegniese kant van radio uitsendings te verbeter Sy familie en vriende het geweet dat daar nie ‘n ding was wat Pierre nie kon regmaak nie.
Saam met Heilie het hy die Wieke en Wiele motor- en-vliegtuig skou vir ses jaar suksesvol in Prays behartig. Vele vriende is gemaak by die skoue wat hulle bygewoon het met die alombekende Austin 7 waarmee die Boulognes vele toekennings verower het.
Hy het ook gereeld bydraes vir die Gazette oor motorskoue geskryf.
Sy ander passie was om Magnetoes reg re maak. Mense het vir hom stukkende Magnetoes van regoor Suid Afrika gestuur.
Hy was vreeslik lief vir visvang saam met sy swaers en ook sy geliefde skoonpa, Koos Maritz Hulle het baie ure langs die Vaal rivier spandeer.
Sy familie vertel dat hy die beste braaier in die wêreld was, en het hy self ‘n unieke baksteen braaiplek gebou.
Hy was ook besonder lief vir blokraaisels.
Pierre was enig in sy soort. Gaaf en stil, maar met ‘n skerp sin vir humor en altyd bereid om te help.

Sy passie vir radios het op n jong ouderdom begin, en sy liefde vir klokke en horlosies was sigbaar in sy huis waar sy handerwerk sy familie altyd sal bybly.
Pierre en vriende het die Guinness Book of Records gehaal met die meeste stillstaande enjins wat op een slag geloop het. Die rekord is in September 2007 opgestel.
Met die Austin 7 was hy chauffeur vir troues en matriekafskeidsgeleenthede, en het die einste Austin in 2015 die toekenning as Beste Austin by die Johannesburg se Ou en Veteraan Motorskou gewen.
Almal wat vir Pierre geken het, het ook sy passie vir vliegtuie geken – ,veral dié soos die Spitfire en ander wat diens gedoen het in wêreldoorloë.
Daarom sal ‘n viering van Pierre se lewe op 22 Desember om 11:00 by die Parys-vliegveld se Montgolfiers Restaurant gehou word.
Pierre sal met net die mooiste herinneringe onthou word deur Heilie , sy dogter Thea, seun Cobus, skoondogters Sindy en
Heidi, kleinkinders Roxanne , Dylan , Brandon, Monique, Shandre en Leia, en agterkleindogter, Ambe.
Mense wat die viering van Pierre se lewe wil bywoon om ook so van hom afskeid te neem, word gevra om Thea te skakel by 067 063 1762.



