Vyf van Parys maak hul skuiwe vir Sedibeng
Sterkte aan die skaakspelers wat die naweek sal deelneem.
Woensdagaande is skaakaande in Parys. Skaakspelers van die dorp en ook spelers van omliggende dorpe kom dan hier by Dassiepad in Parys se hoofstraat bymekaar om sosiaal teen mekaar te speel. Die spelers is nie verbonde aan ‘n klub nie, maar geniet die spel en die geleentheid om teen ander spelers te speel.
Op ‘n aand sal jy gemiddeld vyftien en meer spelers hier kry wat mekaar uitdaag – sommige so jonk soos die vyfjarige Kalinka Yorke- Hart.
Die talent van dié skaakspelers sal die naweek mee rekening gehou moet word wanneer vyf Parysenaars hul skuiwe gaan maak vir die Sedibeng-streek by die Gauteng Interstreek Volwasse en Senior Skaaktoernooi. Die toernooi word by die Universiteit van Johannesburg gehou.
Danny Botes, Willem Erasmus, Ernest Phakoe en Werner Ernst is ingesluit in die senior-span vir spelers bo 50 jaar, terwyl Tshediso Ramabodu vir die volwasse span sal speel.
As jy kan skaak speel en die spel geniet – kom speel saam Woendagaande vanaf 18:00 by Dassiepad.
Om te speel is gratis.
Bring net jou eie bord en skaakstukke. Jy kan ook ‘n boodskap na Danny Botes stuur by 071 341 8482, sodat jy by die WhatsApp-skaakgroep ingesluit kan word. Op die groep word weekliks kommunikasie oor die Woensdagaand se spel gedeel, en is dit makliker om op hierdie manier seker te maak genoeg tafels word bespreek vir spelers.