Groot hartseer na botsingtragedie
Ons diepe en innige medelye met die families van die oorledenes.
‘n Botsing op die Parys/Fochville-pad het Saterdag 14 Desember, die lewens van twee mans, Jaco van Rooyen en Corny Claassen, van Parys Gas, ge-eis.
Corny was nie net as sakeman bekend nie, maar ook as vriend besonder geliefd. Talle huldeblyke en boodskappe van meelewing is oor die naweek gedeel waarin hy beskryf is as iemand wat ‘n ‘gentleman’ was met ‘n mooi hart. In sy vriendekring sal sy plek oneindig leeg wees en laat hy talle mooi herinneringe agter. Sy gedenkdiens is Vrydag vanuit die AGS Sion-gemeente.

Corny Claassen
Ook Jaco wat Nuwejaarsdag 48 sou word, is as iemand beskryf wat baie vir sy vriende beteken het en wie se dood ‘n groot leemte in sy familie- en vriendekring laat. Jaco se gedenkdiens is Vrydag 27 Desember om 11:00 vanuit die AGS Sion-gemeente.

Jaco van Rooyen.
Brigadier Mokgwabone, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het die ongeluk bevestig.
Die insittendes van die ander voertuig wat in die botsing betrokke was, is per ambulans van die toneel vervoer en is reeds ontslaan.
Ons opregte en innige medelye met beide families.



