Twee vas vir moord van oudlanddros
Boeregemeenskap en polisie geloof vir samewerking.

Danksy die vinnige reaksie en samewerking tussen die polisie en die boeregemeenskap is twee verdagtes Sondag in hegtenis geneem in verband met die moord op oudlanddros, Piet Bester. Die 63-jarige Bester se liggaam is Sondagoggend omstreeks 09:00 met veelvuldige wonde in ‘n plas bloed op sy kleinhoewe by Glen net buite Bloemfontein gekry, het polisiewoordvoerder, kapt. Loraine Earle gesê.
Bester was in sy jonger dae ook vaskopstut vir die Vrystaat en Griekwas.
Earle het gesê die arrestasie bewys weer die waarde van samewerking van die polisie en gemeenskappe om misdaad aan te spreek.
Sy sê die verdagtes sal binnekort voor die hof verskyn.
Daar is ook ‘n beroep gedoen op die publiek om enige inligting wat kan help met die ondersoek na die moord, deur te gee aan die ondersoekbeampte, kol. Ben Bolsiek by 082 466 8530. Inligting kan ook deurgegee word op die Stop Misdaadnommer 08600 10111, of anoniem op die MySAPS toepassing.



