So kry indringers vatplek in die vleiland
Die inisiatief om die vleiland te rehabiliteer kan net slaag met die samewerking van die gemeenskap.
Parys se pratige vleiland-gebied wat enorme toeriesme potensiaal vir die dorp inhou, word oor jare bedreig deur onder meer die storting van vullis, bourommel, mense wat ‘n lewe maak van herwinning wat hier die materiaal wat hulle versamel sorteer en wat hulle nie gebruik, dan agterlaat, sowel as rioolstorting en indringerplante.
‘n Inisiatief om die verwaarloosde natuurlike vleiland-gebied in die middel van Parys te rehabiliteer en te omskep in ‘n volhoubare vleiland-ekosisteem wat toeganklik en veilig sal wees vir alle gemeenskappe, is reeds goed op dreef. Die eerste fase van die projek behoort binne die volgende jaar voltooi te wees.
Sedert begin is met die inisiatief is ‘n roete vir bergfietsry en landloop reeds in die vleiland gevestig. skoonmaakaksies geloods, verskeie stap, hardloop en fietsry geleenthede vir die gemeenskap in die vleiland aangebied, befondsingsvoorleggings ingedien, ‘n voëllys vir die vleiland begin, 288 plantspesies in die vleiland op INaturalist aangeteken, die natuurlike fonteinwater getoets en is dit veilig gevind vir drinkwater, en 100 bome ontvang van DESTEA wat in Augustus in die vleiland geplant sal word.
Die inisiatief om die vleiland te rehabiliteer kan egter net slaag met die samewerking van die gemeenskap.
Hoe kan jy help?
1. Deur nie hier rommel te stort nie, en ander ook aan te moedig om die vleiland-gebied skoon te hou.
2. Die vleiland te benut met die geleenthede wat dit bied vir sport, ontspanning en die waardevolle ekologiese lesse wat hier geleer kan word.
3. Mense bewus te maak van die voordele wat die vleiland aan ‘n gemeenskap bied.
Gevolge van rommel- en vullisstorting
Die foto’s van Danie Venter wat reeds 288 plantspesies in die Parys vleiland-gebied op INaturalist aangeteken het, wys enkele van die indringer plantspesies wat alreeds vatplek in die vleiland gekry het.
Venter verduidelik dat dié indringers in die vleiland ingebring word deur vullis en bourommelstorting, motors en treinbeweging, of selfs deur die saad wat aan diere se pelse vasklou. Venter sê om van die indringers ontslae te raak is geweldig arbeidintensief.







Die vleiland-area strek vanaf Tumahole tot onder by die Mimosa Tuine. “Die area begin by ‘n natuurlike varswater fontein aan die agterkant van die Viva-vulstasie in Parys se nywerheidsgebied,” vertel Leida Schuman, een van die vrywilligers betrokke by die projek. Sy verduidelik dat die vleiland ook ‘n hoof voetgangerroete is vir mense wat daagliks tussen Tumahole, Schonkenville en Parys beweeg. Dit verbind skole, die nywerheidsgebied van Parys en woongebiede.
(Inligting met dank aan Danie Venter en Parys Vleiland komitee)



