Nog ‘n knou vir motoriste en vulstasie-eienaars
Dit is reeds die vierde agtervolgende brandstofprysverhoging.

Die brandstofprysaanpassing vir Februarie wat van vandag (4 Februarie) om middernag geld, bring nog ‘n gevoelige knou vir beide motoriste en vulstasie-operateurs.
Petrolpryse styg met 82c per liter vir beide 93 en 95 oktaan, terwyl dieselpryse met R1,05 per liter styg vir 0,05% swaelinhoud, en R1,01 per liter vir 0,005% swaelinhoud. Daar is ook ‘n prysstyging vir paraffien en gas. Gas sal 42c per kilogram duurder word.
Dit is die vierde maand agtereenvolgens dat brandstofpryse styg. Hierdie styging is egter die grootste in byna ‘n jaar tydperk.
Volgens Henry van der Merwe, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Petroleumkleinhandelaarsvereniging (SAPRA), is die impak ‘n “verloor-verloor-situasie” vir brandstofkleinhandelaars en verbruikers.
“Wanneer die brandstofprys styg, pas motoriste natuurlik aan deur minder te ry en ritte versigtiger te beplan, wat verkoopsvolumes vir vulstasies aansienlik verminder,” verduidelik hy. “Selfs stasies wat op besending koop, trek nie voordeel uit hierdie veranderinge nie. Dit is ‘n moeilike omgewing waar stasie-eienaars dikwels krimpende marges in die gesig staar.”
Van der Merwe merk op dat stygende brandstofpryse tot ‘n rimpeleffek oor ander sektore kan lei, wat die koste van goedere en dienste opstoot weens verhoogde vervoeruitgawes.
“Die langtermynoplossing lê in volgehoue skakeling met belanghebbendes in die bedryf en die regering om maniere te vind om die impak van hierdie prysaanpassings op verbruikers en kleinhandelaars te versag,” sluit hy af.