Kabaretviering van Parys met Franse romantiek
"Mense het steeds 'n honger na die kunste, ook in die platteland," sê Hettema, "selfs meer as voor die Covid-grendelperke."

Nie aan die walle van die Franse Seine nie, maar hier waar die Vaalrivier Parys omsoom, het kabaret diva, Helena Hettema, in eg Franse flair die maand van die liefde besing in die hart van die Vrystaatse platteland.
Die gesellige piekniek-aand in die Boomstraat-tuin van Charles en Leida Schuman, het gaste bekoor op die vooraand van die dorp se 150ste bestaansviering. ‘n Voorsmakie van wat verwag kan word as die dorp sy feesvure in 2026 hoog sal brand.
“Mense het steeds ‘n honger na die kunste, ook in die platteland,” sê Hettema, “selfs meer as voor die Covid-grendelperke.”
Op 62-jarige ouderdom is dié befaamde aktrise, liedjieskrywer en sanger wat naas Afrikaans ook in Frans, Spaans, Vlaams en Italiaans sing, passievol oor die toekoms van die kunste in Suid-Afrika. Dit is nie maklik vir jong kunstenaars nie, gee sy toe, maar glo dat kunstenaars daarin moet belê om hul eie uniekheid te verbreed.
“Mense is honger vir die kunste – veral in die platteland – daarvan getuig ‘n aand soos hierdie,” gesels sy.


“Ek skep my eie teater en neem dit na dorpe. Dit gaan daaroor om geleenthede te skep en te benut. Ek glo daaraan dat kunstenaars onafhanklik moet wees,” sê sy.
Hoewel dit nie haar eerste besoek aan die dorp was nie, het die dorp oor die jare gegroei met ‘n unieke karakter en energie wat haar opnuut bekoor het sedert die dae toe sy in Parys se eertydse Ruby’s Restaurant gesing het. Dit is die passie wat jy hier beleef en die uniekheid van elke winkel wat Parys so gewilde naweek wegbreekplek maak, meen sy.
Helena Hettema het oor dekades haar stempel in die vermaaklikheidsbedryf afgedruk, en was vele van haar aanhangers onder die gaste wat die aand bygewoon het. “Vir my het dit die wêreld beteken,” sê sy, wat ook op wêreldverhoë in verskeie lande haar buiging gemaak het.
Eersdaags maak sy ‘n Kaapse draai wanneer sy in Die Koelkamer in Paternoster sing op 8 Maart, en dan by Die Boer-teater in Durbanville op 11 Maart. Daarna volg ‘n optrede by ‘n tehuis vir bejaardes in Bellville. Sy vertel ook van haar tweetalige koffietafel digbundel in wording wat later vanjaar verskyn met poësie, prosa, fotografie, waterverf, ink- en potloodsketse – die keur van 26 kunstenaars se werke onder die titel, A Journeyman – ‘n Digter ontbloot/ A Poet revealed. Haar eerste gedig het sy op 17-jarige ouderdom geskryf. In 1988 begin sy sing en gaan in 1993 solo met haar kabaret.
Haar loopbaan het by Truk (die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) begin. Vele rolle het gevolg en werk sy onder die regie van bekendes soos Alwyn Swart, Billy Egan, Dieter Reible, en akteurs soos Cobus Rossouw, Elize Cawood en Eric Nobbs. As jong aktrise speel sy teenoor bekendes soos Brumilda van Rensburg en Grethe Fox, en selfs ‘n kameerol in die bekende, Agter elke Man.

Baie sal haar ook nog onthou as lid van Anton Goosen se destydse Kommissie van Ondersoek saam met Lucas Maree en Karlien van Niekerk, en vir die temalied van die TV-reeks, Dot en Kie, en die skryf en sing van die TV-reeks Sonkring se temalied. Dertien CD’s en twee DVD’s, ‘n SAMA-toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album, en ‘n Geraas-toekenning vir Beste Vroulike Kunstenaar, tel onder die sukses van die befaamde kabaretkunstenaar, vir wie Parys altyd ‘n eie romantiek en bekoring sal inhou.



