Bros- of skilferkors – of kortpad korsloos – melktert kraai nog koning!
Liefde en geduld die wenresep vir dié soet verleiding
Die soet kaneelverleiding kan jy moeilik weerstaan. Bo-op ‘n malvapoeding onderlaag, as vulsel in ‘n pannekoek, broskors of skilferkors of sommer kortpad met korsloos, as ‘n kolwyntjie, in ‘n oliebol (doughnut), met ‘n Brownie-kinkel, of as geursel vir ‘n drankie. Melktert kraai koning hoe jy hom ookal bedien.
Hoop jy is vandag gelukkig om ook ‘n stukkie van die soet kaneelbederfie te kan geniet, want vandag, is Nasionale Melktert-dag, en sorg die baasbaksters weer vir melkterte uit die boonste rakke.
In Parys het dié dag nie verby gegaan sonder ‘n ode aan die jarelange gunsteling nie. By die Eiffel Walfelhuis vertel Cherise Emerson, is die geheim van ‘n lekker melktert beslis die liefde wat daarin gaan en geduld. Melktert-bak jaag jy nie af nie. Hoewel sy al haar hand aan vele lekker gebak gewaag het, was vanjaar die eerste jaar dat sy ook spesiale moeite met melktertdag gemaak het. Die eindresultaat was 24 heerlike melkterte wat op bestelling gebak is.

By Plumtree Restaurant is ouma se gunsteling resep nader getrek vir sewe tradisionele mellkterte en twee heeerlike malva melkterte wat spesiaal vir die dag gebak is en wat jy saam met ‘n beker moerkoffie kon geniet.

Die melktert-storie
Al roem baie Suid-Afrikaners met skougehalte melktertresepte, is die melktert nie so eie aan Suid-Afrika soos wat ons graag wil glo nie. Baie ander lande het soortgelyke weergawes.
Die Spanjaarde geniet hul eier-vla. Die Portugese smul aan vla-tertjies, die Franse kookkuns het sy eie variasie van Gateau Basque, Mille Feuille en meer, terwyl selfs die Jode-tert wat Suid-Afrikaners goed ken, se vulsel ook herinner aan die tradisionele melkert.
Eintlik is dié lekkerny al van die Middeleeue bekend toe daar in kloosters amandelpap gemaak is van amandelmelk wat met gemmer en kaneel gegeur is.
Die amandelpap het later plek gemaak vir eier-vla in al wat kors is gebak.
Die gebruik om suiker oor geregte te sprinkel, kom ook uit die middeleeue.
Maar of jy nou broskors of ‘n skilferkors gebruik, kortpad kies met korsloos, geur met amandel, kaneel of naartjie – melktert in watter variasie bly ‘n wenner. Sny daarom die skywe maar rojaal vandag, want dit is immers Nasionale Melktertdag!



