Koepel-biodiversiteit – ‘n natuurwonder op jou voorstoep.
Een van die besondere kenmerke van die Vredefort Koepel wat uitstaan is sy ekologie en groot biodiversiteit verskeidenheid wat verskillende habitatte en mikro-habitatte insluit

Die Vredefort Koepel Bewarea is op ‘n goeie plek. Die verhouding met ons gemeenskap is goed, en daar is komplimente vir die werk wat die Bewarea in dié wêrelderfenisgebied doen. So sê dr. Biddie Biddulph, voorsitter van die Bewarea.
Een van die besondere kenmerke van die Vredefort Koepel wat uitstaan is sy ekologie en groot biodiversiteit verskeidenheid wat verskillende habitatte en mikro-habitatte insluit. Dit is juis dit wat verlede jaar gelei het tot ‘n spontane inisiatief vir ‘n ambisieuse projek wat saam met ekoloog Renier Terblanche aangepak is om die Koepel se fauna en flora te lys vir bewaring en bewusmaking van dié gebied.
Terblanche het enkele voorbeelde van unieke spesies wat hier in die Koepel-natuur gekry word gedeel tydens die Bewarea se jaarvergadering by Rondekop Lodge waarmee 2024 se jaarprogram afgesluit is.
Hy het ook verduidelik watter groot rol biodiversiteit in lewenskwaliteit speel. “Mense loop dikwels verby dinge en besef nie hoe belangrik bewaring is nie,” het Terblanche gesê. Daarom is die uiteindelike oogmerk met die projek om afsonderlike sakgidse saam te stel waarin onder meer die bome en plantegroei, en voëls en insekte wat in die Koepel gesien word, gelys kan word sodat besoekers dit wat hulle op staproetes of tydens ‘n besoek aan die Koepel sou sien, hierin kan afmerk. Selfs die moontlikheid van ‘n koffietafelboek spesifiek oor die biodiversiteit van die Vredefort Koepel word nie uitgesluit nie.
Die versameling van data oor biodiversiteit in die Koepel sal navorsing stimuleer, en kan dié data ook help met ‘n program vir biodiversiteitbestuur wat veral in ‘n wêrelderfenisgebied van groot belang is, het hy genoem.
“As jy weet wat aangaan in die Koepel, moet jy weet hoe om dit sinvol te bewaar, en hoe om bewaring logies aan te pak,” het Terblanche gesê. “Aan die einde van die dag sal die projek van onskatbare waarde nie net vir bewaring wees nie, maar ook om die enorme toerismepotensiaal van die Koepel te ontsluit.”
Die eerste stap in die program is die kartering of data versameling, en het grondeienaars in die Koepel die afgelope maande reeds geesdriftig begin om foto’s en waarnemings te deel.
As habitatspesialis in plant- sowel as dierkunde het Terblanche wat bekend is as die ‘skoenlapperman’ met sy verstommende kennis oor onder meer skoenlappers, alreeds die raamwerk geskep vir die identifisering en beskrywing van verskeie spesies in die Vredefort Koepel. Die moederdokument sal uitgebrei word soos wat data gegenereer word.
“Die belangrikste is dat meer mense betrokke sal raak by die projek,” het Terblanche gesê, en ook verwys na sogenaamde Bioblitse waar mense help met opnames, en dit dan lys op die toepassing iNaturlist.

“Die wonder van dit alles is dat die uniekheid van wat ons hier in die Vredefort Koepel sien op ons voorstoep is,” het Terblanche genoem, wat as Potchefstromer ook ‘n noue verbintenis met die Koepel-omgewing het.
Hy noem dat die Koepel meer as 60 soogdierspesies, meer as 300 voëlspesies, meer as 30 reptielspesies, meer as tien visspesies in die Vaalrivier, en meer as 110 skoenlapperspesies het wat alreeds hier geïdentifiseer is. Dan is daar ook al minstens drie beskermde boomspesies geïdentifiseer.

Hy het in sy boeiende praatjie ook gesels oor die bruin vuurpyle as bedreigde plantspesie wat hier in die vleilande van die Koepel voorkom en in Februarie blom.
“Mense soek vandag ‘n connectedness. Moet daarom selfs nie die belang van kuns en gedigte in die natuur onderskat nie. Maak nie saak watter kenner jy is nie, daar is altyd iets wat jy nie geweet het nie. Ons sien soveel foto’s, maar elke spesie wat jy sien het ‘n bepaalde plek. Dit is waaroor biodiversiteit gaan,” sê hy.

Oor die laaste 50 jaar het 53% van wildlewe-spesies agteruit gegaan en is daar oor die wêreld kommer oor biodiversiteit.
“Die Unesco-verslag fokus sterk op die geologiese waarde van die Vredefort Koepel, maar die habitatte en mikrobiologie wat ons hier sien, maak van die Koepel so ‘n interessante plek,” het Terblanche gesê. Dit is immers hier in die hart van die Koepel wat jy iets van die bosveld, die grasveld wat ook ‘n bedreigde ekosisteem is, vleiland en dan ook die Vaalrivier sien, wat ‘n besoek hier beslis die moeite werd maak.

‘n Jaar van hoogtepunte
‘n Jaar van hoogtepunte vir die Koepel Bewarea was 2024 inderdaad, met die Bewarea-ledetal wat sterk gegroei het. Gedurende 2024 is hard gewerk en bygedra tot die aanspreek van verskeie belangrike bewaringskwessies waaronder besoedeling van die Vaalrivier; deur en hoe voorkomend opgetree kan word om indringerplante se infestasie hier te bekamp; die aanspreek van munisipale rioolbesoedeling, en saamstel van ‘n verslag oor die bobbejaanpopulasie in die Vredefort Koepel.

Insiggewende praatjies is gehou oor onder andere insekte in die Koepel, indringerplante en hoe die jagbedryf bydra tot bewaring.
In 2025 sal ook gekyk word na nuwe inligtingsborde by die ingange van die Vredefort Koepel, en aandag is gegee aan die Koepel se digitale platforms.
Al is daar gehoop dat die proses afgehandel sou wees om die Vredefort Koepel tot wêrelderfenisgebied in terme van Suid-Afrikaanse wetgewing te proklameer, is dit steeds nie afgehandel nie, hoewel belowende vordering in 2024 gemaak is.



