Vrystaatse dorpie kry ligtoring vir Kruistog-belewenis
Die ligtoring sal gebou word van klippe afkomstig van plase en sal 'n pragtige tentoonstelling wees van die verskillende klipformasies wat in die Vredefort Koepel voorkom. Dit sal sover bekend die enigste ligtoring in die Vrystaat wees.

Vir die volgende paar weke gaan daar ‘n gewerskaf van ‘n ander wêreld in dié klein Vrystaatse dorpie, Vredefort wees. Daar’s bome wat gesaag moet word, rommel wat weggery moet, gras wat gesny gaan word, sypaadjies wat mooi gemaak moet word, en die lys is nog baie langer.
Maar wat sit agter die operasie regruk? Net twee woorde – Die Kruistog – ‘n projek wat deur mense van Vredefort en die distrik vir die vierde jaar agtereenvolgens vanjaar aangepak word om mense ‘n besondere Paasbelewenis te gee.


Elke jaar as die groep passievolle mense uit verskillende kerkagtergronde skouer aan die wiel sit vir die voorbereidings, neem die Kruistog sy eie karakter aan.
Hierdie jaar word daar ‘n vlot gebou van ‘n groot kroon wat die koningskap en heerskappy van Jesus Christus voorstel. Jesus se heerskappy oor die dood, graf en hel is een van die kern temas van Paasnaweek, en daarom wil ons graag hierdie jaar dié faset van Jesus se verlossingswerk aan die kruis beklemtoon, verduidelik Juan Greeff.
Die vlot met die groot kroon gaan deur ‘n trekker gesleep word wat deur Valtra geborg word, en sal die Kruistoggangers lei op ‘n 3km staptog deur die strate van Vredefort op Goeie Vrydag, wat hierdie jaar op die 18de April val.


Die raamwerk van die kroon word gebou deur Quality Steel & fencing in Parys, en die buigwerk is gedoen deur Osprey Marketing. Nadat die raamwerk voltooi is, sal daar aan die vlot gebou word op die perseel van Dinamika gemeente in Vredefort.
Mense van die hele gemeenskap is reeds elke dag besig om die duisende blommetjies te vou wat gebruik gaan word om hierdie kroon te versier. “Ons wil graag mense uitnooi om te kom blomme vou enige tyd deur die dag, Maandag tot Vrydag. Hier rondom ‘n koppie koffie word nuwe vriendskappe gevorm, en werk ons saam om Jesus te vereer, sê Juan.


Vanjaar gaan daar ook ‘n ligtoring in Vredefort gebou word – wat sover bekend die enigste
ligtoring in die Vrystaat sal wees. Planne is reeds op die tafel om hierdie ligtoring op te rig by
Cornerstone Pub & Grill, by die Parys-ingang van die dorp. Hierdie toring gaan uit klippe gebou
word wat van verskillende plase in die Vredefort Koepel af kom.
“Dit gaan ‘n pragtige tentoonstelling wees van die verskillende klip-formasies wat in die Vredefort Koepel voorkom, en boere word genooi om allerhande soorte klippe van hulle plase af te bring vir die bouwerk
aan die ligtoring, wat hierdie week ‘n aanvang neem.
Die doel van die ligtoring is egter groter as dit. Dit is om “Jesus Christus, die Lig van die Wêreld” uit te beeld. ‘n Gedenksteen sal op die fondasie aangebring word wat die boodskap uitdra, en ‘n regte flitsende vuurtoring-lig gaan in die bokant van die toring aangebring word om almal daaraan te herinner soos wat hulle
Vredefort binnekom, sê Juan.
“Die Kruistog is ‘n gemeenskapsprojek, aangebied deur die gemeenskap, en ter wille van die
gemeenskap. Daarom wil ons graag almal uitnooi om op watter wyse ookal, betrokke te raak.
Daar word blomme gevou, gras gesny, blomme geplant, skoongemaak, vlot gebou, en nog
baie meer. Die vroue bou “stasies” op die roete wat verskillende uitbeeldings uit
die lewe en bediening van Jesus voorstel. Die jeugspanne gaan meer as 500 kruise bou om uit
te deel vir mense om te dra. Wildsplase stuur hulle wildsvoertuie vir ouer mense om te kan
deelneem en nie kans sien om die roete te stap nie,” sê Juan.
.As jy betrokke wil raak, gesels met Juan Greeff (koördineerder) by 079 874 1860.
Die Kruistog is heeltemal gratis vir almal wat dit bywoon. Elkeen kry ‘n
nagmaalpakkie met aankoms, en elke gesin ontvang ‘n sleutelhouer van die Kruistog by die eindstreep.
“Ons maak staat op God se voorsiening vir finansies deur die besighede, boere, en privaat persone van ons omgewing. Ons is dankbaar vir elkeen wat op hierdie manier ‘n belegging maak in God se Koninkryk. Maak seker jy is vroeg in Vredefort op die 18de April, en kom beleef Paasfees soos nêrens anders nie!,” nooi die organiseerders.
Wat bring jy saam vir Die Kruistog?
‘n Hoed en sonskerm (sambreel is dalk ook ‘n opsie)
‘n Kruis (tuisgemaak of gekoop, enige vorm of grootte) as jy kan. Kruise sal ook beskikbaar wees.
‘n Paar rand (vir die kos- en koeldrankstalletjies)
Gemaklike klere (die drag is informeel)
Gemaklike stapskoene



