Waarnatoe vir Paasnaweek: Hier is plekke wat jy dalk nog nie besoek het nie
Jy kan boonop die vakansiedae van die Paasnaweek rek om 'n heerlike 11 dae vakansie te beplan met die minimum verlofdae wat jy sal moet vat.
Die Paasnaweek is dalk net die kans vir jou vir ‘n lekker wegbreek na een van ons land se plattelandse juwele waar jy nog nie tevore was nie. Vergeet die bekende en vat die pad na van die minder bekende bestemmings – of dit in die Karoo of die hart van die Vrystaat is. Dit is dikwels in klein dorpies waar jy met egte plattelandse hartlikheid verwelkom word, en waar elke rand van toeriste die deure van klein sakeondernemings oophou, en kunstenaars se voortbestaan verseker.
Hier is ‘n paar Paasfees waarnatoe-idees:
1. African Stonehenge, Mpumalanga
As jy hou van geskiedenis en avontuur is die een vir jou. Weggesteek by eNtokozweni (Machadodorp), is die African Stonehenge—ook bekend as Adam’s Calendar—’n prehistoriese rotsformasie wat deur sommige as die sonkalender beskryf word. Die rotsformasie is meer as 75 000 jaar oud. Of jy dit wil sien vir die historiese waarde daarvan of die uitsonderlike uitsig – dit is ‘n besonderse moet sien.
2. The Big Pineapple, Oos-Kaap
As jy nog nie ‘n foto van jou by die 16m hoë veselglas pynappel het nie, moet jy beslis hier ‘n draai maak. Die prettige besoekpunt kry jy by Bathurst, en veral die kinders sal dit baie geniet. Leer meer van die Mzansi pynappel-industrie, neem ‘n paar foto’s en as jy op ‘n Sondag hier verbygaan – maak sommeer n draai by die boeremark.
3. Bo-Kaap, WesKaap
Die kleurvolle woonbuurt met sy Kaaps-Maleise gemeenskap bied jou van die beste kossmake in die land. Van gepiekelde vis tot varsgebakte Paasrolletjies, en ‘n kuier-lekker atmosfeer wat jy gaan onthou.
4. Sentraal Karoo, Wes-Kaap
‘n Eindelose horison, en van die mooiste sterre naghemel belewenisse wat jy ooit sal sien, kry jy hier. Maak ‘n draai by dorpies soos Prince Albert, Beaufort-Wes en Matjiesfontein, en bespreek sommer ‘n nag in die Lord Milner Hotel in Matjiesfontein. Paasfees in die Karoo kan ook nie sonder n behoorlike Karoo lamsboud nie. Sag tot op die been. Maak n draai by die Karoo Kombuis in Prince Albert, of die Lord Milner Restaurant, en voor jy die pad vat huis toe – kry bietjie Karoo biltong in Laingsburg.
5. Parys, Vrystaat
Net n uur se ry vanaf Johannesburg, sal die dorpie in die hart van die Vrystaat jou bekoor. Of dit die karaktervolle winkeltjies, koffiewinkels, oudhede, restaurante, skydive, river rafting, stap of bergfietsroetes is, gholf op die dorp se twee spogbane, paddle of n spa-bederf is. Langs die Vaalrivier geleë, en in die middel van die Vredefort Koepel se ongeloofllike natuurskoon, is hier iets te doen vir die hele gesin.
6. Satyagraha House, Johannesburg,
Satyagraha House, ook bekend as Gandhi House is omring met ‘n prag tuin en gee ‘n blik op die lewe van Mahatma Gandhi meer as ‘n 100 jaar gelede.
Waarvoor wag jy – pak jou tas!
(Bron SA Tourism)



