Wanneer jou kind volstrek weier om sy hare te kam …
Mense met PEV vermy direkte en indirekte eise

As jy gereeld jou hare uit jou kop uit wil trek omdat jou kind so ongelooflik moeilik, ongehoorsaam, manipulerend en uitdagend is en dikwels weier om deel te neem aan alledaagse aktiwiteite selfs binne gesinsverband, moet jy verder lees. Dalk is hy juis nie al die dinge nie, maar het hy bloot nie beheer oor sy optrede nie omdat hy patologiese eisevermyding (PEV) – in Engels: Pathological demand avoidance – PDA, het.
Kyk ‘n mens na die statistiek lyk dit asof 70% van kinders met PEV nie in ‘n hoofstroomskool is nie en by ‘n spesiale ondersteuningsentrum ingeskryf is of tuis onderrig word. Sewentien persent van hierdie kinders weier om skool toe te gaan, en ongelukkig is daar nie PEV-spesifieke skole nie, hoewel daar wel skole is waar daar in ‘n mate voorsiening hiervoor gemaak word.
Volgens die PEV-vereniging in Brittanje behels eisevermyding die onvermoë om sekere dinge op sekere tye te doen. Dit verwys ook na dit wat ons doen om eise te vermy. PEV is nie maklik om te diagnoseer nie, want die meeste van ons is geneig om soms nie gehoor te gee aan eise nie – ons almal doen dit om verskillende redes.
Die PEV-persoon se optrede is egter meer ekstreem. Hulle vermy direkte en indirekte eise en selfs wanneer jy so ‘n persoon op die skouer klop, kan hy dit as ‘n verwagting ervaar dat hy nou in die toekoms dieselfde moet doen.
Dit kan trauma in die brein aktiveer wat die veg-vlug-vries-respons tot gevolg kan hê.
Annelie van Jaarsveldt skryf meer oor die toestand op https://afrikaans.com/2025/03/18/leerhulp-patologiese-eisevermyding-pev-2/
Van Jaarsveldt skryf PEV word as ‘n gestremdheid beskou “wat by een uit ses mense op die outismespektrum gediagnoseer word”. Sekere individue op die outismespektrum kan eise of situasies vermy wat angs of sensoriese oorlading voortbring, roetines omvergooi, oorgang van een aktiwiteit na ‘n ander behels. Hulle sal ook aktiwiteite/gebeure waarin hulle nie belangstel nie, of nie kan insien hoekom hulle dit moet doen nie, vermy.
Hulle kan weier, onttrek, hulself afsluit of ontsnap (veg, vlug of vries) om hierdie situasies te vermy. Wat belangrik is om te weet is dat so ‘n mens geen beheer hieroor het nie – net soos wat ‘n mens nie beheer oor ‘n hartaanval het nie.
Nuttige benaderings sluit in om sensoriese kwessies te hanteer, om individue te help om by nuwe situasies aan te pas, om te hou by ‘n voorspelbare roetine, om genoegsame kennis te gee dat iets gaan verander of deur te aanvaar dat om sekere goed te vermy heeltemal aanvaarbaar is.
Van Jaarsveldt skryf dat PEV-lyers
- Talle alledaagse eise vermy bloot omdat dit eise is. Sommige mense verduidelik dat dit die verwagting is (van iemand anders of jouself) wat lei tot ‘n gevoel waar jy nie in beheer voel nie, waarna angs toeneem en paniek oorneem.
- Daar kan ‘n mate van irrasionaliteit bykom – bv. ‘n oënskynlik dramatiese reaksie op ‘n mindere versoek, of die persoon is honger, sy maag raas, maar hy eet nie.
- Die vermyding kan varieer, afhangend van ‘n individu se kapasiteit vir versoeke/eise op daardie tydstip, hul angsvlak, hul algemene gesondheid/welstand of die omgewing (mense, plekke en dinge). (Die tipiese sensoriese oorladingsituasie waar die persoon se mandjie geleidelik voller raak en uiteindelik oorloop.)
- ‘n PEV-profiel verskil van mens tot mens. Sommige individue reageer meer aktief – waar eisevermyding openlik, fisies of aggressief kan wees en die individue in beheer wil wees. Ander het weer ‘n meer geïnternaliseerde of passiewe reaksie – eise word minder opmerklik en stiller teengestaan, die persoon steek sy angs en probleme weg (“masking”). Party reageer verskillend in verskillende situasies, afhangend van ander faktore soos byvoorbeeld hoe goed hulle op daardie stadium regkom, die omgewing, die situasie, hulle ouderdom en so meer.
PEV is nie ‘n keuse nie, maar ‘n lewenslange toestand.
Met die nodige begrip en benaderings deur ander en om strategieë te vind om die toestand te hanteer, kan dit makliker word om te bestuur.
As jy enigsins vermoed jou kind ly dalk in ‘n mindere of meerdere mate hieraan, moenie ‘n selfdiagnose maak nie, skryf Van Jaarsveldt. Raadpleeg ‘n kundige, want elke kind verskil en reageer anders op die prikkels van buite.
En ja … dalk is hy/sy net sommer “moeilik”, want die meeste mense het maar van hierdie eienskappe wat soms kop uitsteek.
Lees gerus die volledige artikel en raad by https://afrikaans.com/2025/03/18/leerhulp-patologiese-eisevermyding-pev-2/
Bron: afrikaans.com
Inligting deur Annelie van Jaarsveldt