Local newsNews

Blomme by die duisende Saterdag gevou vir Kruistog

Opgewondenheid groot vir dié kompetisie-uitdaging

Die draad, polystyrene en plastiek lê reg en die opwinding is groot, want môre is die groot dag.
Die uitdaging – wie gaan die meeste blomme in ‘n uur gevou kry, want vou gaan daar gevou word môre in dié Vrystaatse dorpie, Vredefort
Die rede – Vredefort maak reg  vir die jaarlikse Kruistog wat op Goeie Vrydag 18 April gehou word. Vanjaar is die vierde jaar wat die Kruistog gehou word om duisende mense wat elke jaar die Kruistog kom stap, ‘n besondere Paasbelewenis te gee.
En as jy dit kan regkry om die meeste blommetjies Saterdag  in ‘n uur gevou te kry, wen jy ‘n Kruistog T-hemp en pet van jou keuse!
Hoe neem jy deel aan die uitdaging?
Wanneer_ : Saterdag 29 Maart 
Waar_ : Dinamika kerksaal, Vredefort 
Tyd: 10:30 tot 13:00
Na die vou-kompetisie is daar ‘n lekker bring-en-braai. So bring ‘n vleisie en koeldrank saam, daar sal pap en sous wees. Almal is welkom!

Kruistog 2025

Elke jaar as die groep passievolle mense uit verskillende kerkagtergronde skouer aan die wiel sit vir die voorbereidings vir dié groot dag, neem die Kruistog sy eie karakter aan.

Hierdie jaar word daar ‘n vlot gebou van ‘n groot kroon wat die koningskap en heerskappy van Jesus Christus voorstel.  Die vlot met die groot kroon gaan deur ‘n trekker gesleep word wat deur Valtra geborg word, en sal die Kruistoggangers lei op die 3km roete deur die strate van Vredefort wat begin en eindig by die dorp se sportgronde.

Ligtoring

Vanjaar gaan daar ook ‘n ligtoring  in Vredefort gebou word – wat sover bekend die enigste
ligtoring in die Vrystaat sal wees. Planne is reeds op die tafel om hierdie ligtoring op te rig by
Cornerstone Pub & Grill, by die Parys-ingang van die dorp. Hierdie toring gaan uit klippe gebou
word wat van verskillende plase in die Vredefort Koepel af kom.

“Dit gaan ‘n pragtige tentoonstelling wees van die verskillende klip-formasies wat in die Vredefort Koepel voorkom, en boere word genooi om allerhande soorte klippe van hulle plase af te bring vir die bouwerk
aan die ligtoring, wat hierdie week ‘n aanvang neem.

Die doel van die ligtoring is egter groter as dit. Dit is om “Jesus Christus, die Lig van die Wêreld” uit te beeld. ‘n Gedenksteen sal op die fondasie aangebring word wat die boodskap uitdra, en ‘n regte flitsende vuurtoring-lig gaan in die bokant van die toring aangebring word om almal daaraan te herinner soos wat hulle Vredefort binnekom, sê Juan Greeff, een van die organiseerders. .

“Die Kruistog is ‘n gemeenskapsprojek, aangebied deur die gemeenskap, en ter wille van die
gemeenskap. Daarom wil ons graag almal uitnooi om op watter wyse ookal, betrokke te raak.
Die afgelope weke word daar al hard gewerk om die blomme te vou, gras te sny, blomme te plant, skoon te maak, vlot bou, en nog baie meer. Die vroue bou “stasies” op die roete  wat verskillende uitbeeldings uit
die lewe en bediening van Jesus voorstel. Die jeugspanne gaan meer as 500 kruise bou om uit
te deel vir mense om te dra op die Kruistog-roete. Wildsplase stuur hulle wildsvoertuie vir ouer mense om te kan deelneem en nie kans sien om die roete te stap nie,” sê Juan.

As jy betrokke wil raak, gesels met Juan by 079 874 1860.

Die Kruistog is heeltemal gratis vir almal wat dit bywoon. Elkeen kry ‘n
nagmaalpakkie met aankoms, en elke gesin ontvang ‘n sleutelhouer van die Kruistog by die eindstreep.

“Ons maak staat op God se voorsiening vir finansies deur die besighede, boere, en privaat persone van ons omgewing. Ons is dankbaar vir elkeen wat op hierdie manier ‘n belegging maak in God se Koninkryk. Maak seker jy is vroeg in Vredefort op die 18de April, en kom beleef Paasfees soos nêrens anders nie!,” nooi die organiseerders.

Wat bring jy saam vir Die Kruistog?
‘n Hoed en sonskerm (sambreel is dalk ook ‘n opsie)
‘n Kruis (tuisgemaak of gekoop, enige vorm of grootte) as jy kan. Kruise sal ook beskikbaar wees.
‘n Paar rand (vir die kos- en koeldrankstalletjies)
Gemaklike klere (die drag is informeel)
Gemaklike stapskoene

Nog datums waarna jy kan uitsien

5 April – Dorp-skoonmaakdag

12de April – Kruisbou-dag

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button