Welverdiende rus vir APK se ds. Charles
Ds. Cassell het altesaam vir 54 jaar gedien as dominee.
Die Afrikaanse Protestante Kerk Parys het Sondag, 30 Maart vir Ds. Charles Cassell (86) en sy vrou, Zelda, na 11 jaar diens, gegroet. Sondag was Ds. Charles se laaste preek by die APK Parys.
Zelda vertel dat dit vir Ds. Cassell ‘n roeping en ‘n groot voorreg was om by die APK Parys te kon preek en ook op die kerkraad te kon dien.

“Dit is werklik die beste en lekkerste plek waar ons kon klaarmaak. Die mense is so entoesiasties, neem aan als deel en werk baie hard.”

Ds. Cassell het altesaam vir 54 jaar gedien as predikant in nege gemeentes.
Ds. Cassell se dogter, Annemarie Redelinghuys het op sosiale media hulde gebring aan haar pa en gesê dat hy oor die jare geen preek afgelees het nie.
“Vanaf 1982 het my pa met glukoom in sy oë gesukkel, soveel so dat sy visie-veld verminder het en dat my ma hom moes rondry. Elke week nog getrou van Potchefstroom na Parys toe gery. Ek het haar darem gestop om Johannesburg toe te ry – te veel kan op die pad gebeur met hulle,” gaan Annemarie voort.
“Oor 3 maande sal hy 87 jaar oud wees. Sy lewe gewy aan die Here en ons ook so grootgemaak. Tyd vir hom om nou net met sy houtwerk wat hy as stokperdjie gedoen het, aan te gaan. Ek het die mooiste spieëlkas en teetafel (uitgekerf met die hand) wat hy onder andere vir my gemaak het. Twee van ons huise se voordeure het hy ook gemaak en ingesit. Sy hele lewe is gewy aan sy gemeentelede, familie en gesin,” skryf Annemarie.
Ds. Sias Vogel, self ‘n bekende in Parys, sal van hierdie maand deeltyds help met die prediking in die gemeente. ‘n Roeping waarna hy baie uitsien om weer elke week te kan preek.
“



