Vaal se water spat vanoggend oor dié brug
Die weerdiens voorspel nog swaar reën tot minstens Dinsdag toe.
Die Vaalrivier se vloei by die Schoemansdriftbrug is vanoggend net voor 08:00 gemeet op 1 077 kubieke meter per sekonde met water wat toe reeds 2,35m by die brug gestyg het. Vroegoggend is gesien hoe die water reeds oor dié laagwaterbrug in die Vredefort Koepel spat.
Die brug is in die verlede vir voertuie gesluit wanneer die watervlak tot by 2,5m sou styg en vloei teen 1 190 kubieke meter per sekonde gemeet is.


‘n Vierde sluis word vanoggend om 10:00 by Vaaldam oopgemaak. Vaaldam is nou 107,82% vol met invloei wat vanoggend gemeet is teen 650,21 kubieke meter per sekonde. n Totaal van 29,4mm reën is in die Vaaldam se opvangsgebied gemeet.
Barrage laat tans water uit teen 840,535 kubieke meter per sekonde met 38mm reën wat by Barrage gemeet is.
Verhoogde invloei by Bloemhofdam wat nou 103,23% vol is, bring ook mee dat uitvloei stelselmatig by dié dam op die grens van die Vrystaat en Noordwes verhoog sal word as volg:
10:00 – 700 kubieke meter per sekonde
12:00 – 800 kubieke meter per sekonde
14:00 – 900 kubieke meter per sekonde
16:00 – 1 000 kubieke meter per sekonde
Damvlakke
Gariepdam – 99%
Vanderkloof – 78,1%
Daar is gister reeds gewaarsku oor verskeie paaie waaroor water stroom. Dit het ingesluit die R57 vanaf Petrus Steyn na Heilbron, asook n gedeelte van die R500 (Fochville-pad) tussen 5 en 14km buite Parys.
Wees ook bedag op ernstige slaggate op die R59 tussen die N1 oorbrug en Parys.



