Local newsNews

Duisende se skade na dae sonder krag

Die nimmereindigende kragprobleme wat sommige inwoners die afgelope week vir dae sonder krag gelos het, het gelei tot groot frustrasie.

Huishoudings en besighede in Parys het die afgelope week skade van etlike duisende gehad na vele kragprobleme wat die dorp sedert Vrydagnag getref het. Teen Donderdagaand was daar steeds kragprobleme gerapporteer in die Monument-gedeelte van die dorp.

Dit volg nadat ‘n nuwe transformator ook vroeër die week in die gedeelte tusse Loop- en Waterstraat geïnstalleeer moes word.

Die munisipaliteit het vroeër die week gesê dat die buitengewoon nat toestande en baie vog bygedra het tot die tegniese span se verbete stryd met ‘n lang lys van kabelprobleme in verskeie areas, sowel as mini-substasies wat ontplof en gebrand het.

Groter kettingwinkels en van die vulstasies in die dorp het gesê dat hulle na raming gemiddeld tussen R20 000 en R30 000 en selfs meer, verloor het aan brandstof vir noodkragopwekkers wat aanhoudend moes loop net om besighede se deure oor die naweek te kon oophou.

Barney van Heerden van Total Energys het vertel dat krag by dié vulstasie Saterdagoggend afgegaan het. Dié vulstasie was een van die sakeondernemings wat teen Dinsdagmiddag steeds nie krag gehad het nie. Hy, soos ander inwoners en sakelui sê benewens die skade en ongerief, vererger gebrekkige kommunikasie van die munisipaliteit die krisis. “As jy weet hoe lank die krag gaan af wees, kan jy minstens beplan,” sê hy.
Mense moes yskaste vol vleis weggooi.

By 2-Ling Vleis Mark in Dolfstraat het die kragonderbreking skade van tussen R50 000 en R60 000 tot gevolg gehad net aan vleis wat onder kosprys verkoop moes word omdat yskaste en die instap koelkamer nie kon werk nie, en skade aan toerusting.

Maxie Kleynhans vertel dat ‘n distribusiekas regoor die slaghuis voor Ackermans Vrydagoggend gebrand het. Toe kon hulle nog met die noodkragopweker klaarkom sê sy, hoewel daar nie 3-fase krag was nie. “Toerusting in die slaghuis, soos waaiers en sae, het skielik verkeerdom gewerk,” vertel sy. “Die slaghuis se krag is eers Sondag herstel en is die skade aan die instap koelkamer se kompressor waaiers ontdek,” vertel Maxie.

Die distribusiekas in Dolfstraat wat Maandag weer gebrand het.

Teen Maandagoggend het dieselfde distribusiekas weer gebrand. Die slaghuis se kragprobleme was wel teen Dinsdag opgelos.

“Ons sukkel 80% van die tyd met krag en is minstens een dag van die week sonder krag,” sê Maxie.

Sy het egter net die hoogste lof vir die munisipaliteit se elektrisiëns wat onder uiters moeilike omstandighede en met beperkte toerusting en gebrekkige voorraad hul beste, selfs in swaar reën, gedoen het om die herstelwerk so gou moontlik te kon doen. Maxie sê ook dankie vir raadslid Marinda Matthyssen-Engelbrecht wat deurentyd probeer help het om hul op hoogte te hou met vordering met die herstel van die dorp se kragprobleme.

DA-raadslid Brendan Olivier het ook gesê die naweek se kragprobleme was ‘n kombinasie van faktore onder meer weens verouderde infrastruktuur, gebrekkige instandhouding van die netwerk en tekort aan vooraad en toerusting wat deur nat weerstoestande vererger is.

Dit het gelei tot stadiger hersteltyd en herstelwerk wat soms op plekke weer gedoen moes word.
Die drukgroep Save Ngwathe het vandeesweek in ‘n skrywe aan die munisipaliteit gewys op die toestand van elektriese infrastruktuur met mini-substasies en hoëspanningskabels wat voortdurend brand. Die organisasie wys in sy skrywe op die nodigheid om seker te maak dat mini-substasies behoorlik geseël en geïloseer word.

Vir Parys is die grootste kommer egter die wintermaande wat voorlê wanneeer die dorp tradisioneel onder ernstige kragprobleme gebuk gaan wanneer druk op die kragnetwerk toeneem.

* Parys se buurdorp Vredefort het eweneens die week gesukkel met kragprobleme, en dra diefstal op die kragnetwerk by tot ure se kragonderbrekings en skade vir die munisipaliteit en inwoners.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button