Vredefort maak sy strate oop vir Paas-Kruistog
Die Kruistog vertrek om 12:00 op Goeie Vrydag vanaf Vredefort se sportgronde.
Duisende mense sal op Goeie Vrydag, 18 April, weer in die Vrystaatse dorp, Vredefort, saamtrek wanneer dié dorp sy hart en sy strate oopmaak om vir mense die Paasboodskap in meer as woorde te gee. Vir die unieke Via Dolorosa-ervaring wat vanjaar vir die vierde keer hier in die hart van die Vredefort Koepel aangebied word, stap mense met kruise die 3km sirkelroete deur die dorp se strate met verskeie stasies langs die roete wat die lewe en gelykenisse van Jesus uitbeeld.
Vir die afgelope weke het die dorp se mense hande gevat en hard gewerk. Strate skoongemaak, gras gesny, blomme geplant. By die 20 000 plastiese blomme gevou vir die Kroon op die vlot wat vanjaar aan die voorpunt van Die Kruistog sal wees. Daar is selfs ‘n ligtoring by een van die dorpsingange gebou met die unieke rotsformasies eie aan die Vredefort Koepel.
Die naweek is daar weer vir oulaas die strate ingevaar en netjies gemaak. Vyfhonderd en twintig kruise is ook gebou.


Vlytige hande – oud en jonk wat saamgewerk, saamgebou en saam gedroom het, want vir die dorp se mense is Die Kruistog ‘n gemeenskapsprojek – aangebied deur die gemeenskap en ter wille van die gemeenskap.



Die Kruistog voorprogram begin Vrydag om 10:30 by Vredefort se sportgronde met sang gelei deur Lizette Combrink. Na die opening deur Juan Greeff, is daar nog geleentheid vir lofprysing en aanbidding saam met Andries d’Alebout en Richann Brussow.
Nagmaal word om 11:40 gebruik waarna die kruis-formasie op die rugbyveld gevorm word.
Die Kruistog vertrek om 12:00 vanaf die sportgronde, en eindig weer by die sportgronde om 13:00 vir die afsluiting en saam kuier.
Onthou dat kosstalletjies van 09:00 die oggend op die sportgronde beskikbaar is.
Geen toegang word by die Kruistog gevra nie, en almal is welkom. Elke persoon sal ‘n nagmaalpakkie ontvang en ‘n gratis Kruistog-sleutelhouer.
Trek gemaklike klere en skoene aan. Daar is wel voertuie wat sal help met vervoer vir diegene wat nie die roete kan stap nie.
En onthou jou hoed en sonskerm en ‘n paar rand vir die kos- en koeldrankstalletjies. Jy kan ook jou eie kruis in enige vorm of grootte bring vir Die Kruistog.



