Local newsNews

Reuse skenking vir kragprojek by Monument

'n Sonkragstelsel vir die monument sal sowat R7 miljoen kos en is die Gee ons krag-projek geloods om fondse hiervoor in te samel. 

Die Voortrekkermonument het ‘n reuse skenking vir sy “Gee ons krag”-veldtog ontvang van n Oos-Kaapse boer, Gawie Pieneer en Afrikaner Bond (AB)-lede in dié streek.

Pienaar se eie familiegeskiedenis getuig van groot opoffering en dapperheid. Albei sy oupas het in
die Anglo-Boereoorlog geveg en is as krygsgevangenes na Ceylon gestuur. Sy ouma het drie jaar lank
gevlug om nie in ’n konsentrasiekamp te beland nie – ’n dapperheid wat waarskynlik die lewe van
haar kind gered het.

Hierdie verhale het Pienaar se vlam vir diensbaarheid aangevuur. En hy doen dit al sy hele lewe lank.

Die besluit om die Voortrekkermonument te midde van ’n enorme kragkrisis te help om nader aan
kragselfstandigheid te kom, was ’n natuurlike een, vertel hy. “My Afrikanerhart het my genoop,” sê hy. “Ek het my medebroers oor die hele Oos-Kaap gekontak en oorreed dat ons die Monument moet help.

Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument, is Pienaar en die
AB se bydrae van onskatbare waarde. Elke rand wat vir die ‘Gee ons krag’-projek bygedra word, is een tree nader om ons droom van ’n sonkragstelsel te bewaarheid, om toekomsbestand te word, sê Brand.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir die toekomsbouers wat reeds bykans R450 000 bygedra het nie.

Hoekom die Gee ons krag-projek 

Grootskaalse ontwrigting met kabeldiefstal en wispelturige elektrisiteitsvoorsiening het nie net ’n invloed op die duisende toeriste wat die Voortrekkermonument maandeliks besoek nie, maar raak ook erfenisbewaring.

“Ons Erfenissentrum, wat ’n reuse-argief en museumstoor huisves, kan nie met behulp van
kragopwekkers gerugsteun word nie. Dié sentrum, wat met ’n onvervangbaar duur lugsuiwerings-
en-verkoelingstelsel (wat miljoene kos en uit Duitsland ingevoer is) toegerus is, huisves artefakte en
dokumente wat oor dekades aan ons toevertrou is. Dié ruimte moet ingevolge internasionale
standaarde teen ’n bepaalde temperatuur en humiditeit gehou word, het Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument vroeër gesê.

“Vir elke dag sonder krag, wis ons weke se bewaringswerk uit.”

Argiefstukke en artefakte in die Monument se bewaring sluit in 70 oorspronklike Moerdijk-tekeninge
van die Voortrekkermonument wat uit die 1930’s dateer en met die hand geteken is. “Dan is daar
dagboeke en briewe van mense uit Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekampe en krygsgevangenekampe; Bybels met familie-stambome in; kledingstukke soos ’n kind se kappie, kompleet met bloed, wat in 1838 by Bloukrans om die lewe gebring is; ’n naaimasjien uit ’n  konsentrasiekamp in 1901; ’n assegaaipunt uit die Slag van Vegkop; ’n merkwaardige versameling Pierneef-skilderye; en historiese dokumente van onder andere die FAK en die ATKV.

“Ons praat nie van ’n klein ontwrigting nie. Reuse- ekonomiese enjins word tot stilstand geruk.
Gereelde kragonderbrekings en spanningwisselvalligheid het reeds groot skade aan toerusting soos
rekenaars, drukkers, yskaste, WiFi-toegang, tweerigtingradioverbindings, ons telefoonstelsel en
lugversorging aangerig.

“Mense besoek die Kultuurtuiste vir ’n wêreldklaservaring, vir funksies en feeste, en dís presies wat
ons bied. Al kry ons nie ’n sent van die staat nie. Ons oorleef net-net danksy toeriste, skenkings en
lojale  Vriende van die Monument wat maandeliks bydra,” sê Brand.

“Benewens die astronomiese dieselrekening van meer as R10 000 per dag wanneer daar nie krag is nie, moet ons groot kragopwekker ná elke 100 bedryfsure teen ’n koste van R7 500 gediens word.”

‘n Sonkragstelsel vir die monument sal sowat R7 miljoen kos en is die Gee ons krag-projek geloods om fondse hiervoor in te samel.

Volg die skakel https://vtm.org.za/gee-ons-krag-projek/  as jy n bydrae wil maak.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button