Huis Chrissanloo se kinders het jou hulp nou baie nodig
Die mikpunt is om Huis Chrissanloo se deure teen 1 Augustus oop te maak.
In dié huis sal kinderlaggies gehoor word. Klein voetjies sal baljaar in die tuin en op klimrame. Dit sal ‘n veilige hawe wees vir kinders wat tot nou toe net die skadukant van die lewe leer ken het, en wat weens mishandeling of verwaarlosing noodgedwonge uit hul ouerhuise verwyder moes word.
Tot 78% van hierdie kinders kom uit huise waar daar dwelm- en drankverslawing is, en is blootgestel aan erge verwaarlosing en mishandeling. Dit ruk aan jou hart as jy die syfers sien.
Nege en dertig kinders, meestal Afrikaanssprekend, en waarvan die ouderdomme wissel van skaars twee uur oud tot 13 jaar, wat die afgelope finansiële jaar deur maatskaplike werkers van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) uit ouerhuise in die Parys-gemeenskap verwyder is. Die vorige finansiële jaar was dit 64 kinders.
Met Huis Chrissanloo sal dié nood vir ‘n veilige tydelike heenkome vir hierdie kinders uiteindelik aangespreek kan word. Dit danksy ‘n skenking aan VVA van die Chris en Susan Prinsloo Trust waarmee die huis van veiligheid gekoop kon word.
Die huis is na die egpaar genoem, en is in April aan VVA oorhandig.
Nou lê die groot aanbou- en herstelwerk voor om die huis in te rig, en te beveilig. “Die mikpunt is om Huis Chrissanloo se deure teen
1 Augustus oop te maak,” vertel André Wesseloo, voorsitter van VVA.
Hoewel VVA al vir jare ‘n huis van veiligheid in die Tumahole-woonbuurt het wat met groot sukses bedryf word, het die nood ook vir ‘n Afrikaanssprekende Huis van Veiligheid die afgelope twee jaar ‘n ernstige behoefte in die Parys-gemeenskap geword, vertel Sanette Boonzaier van VVA Parys.
Kinders wat uit hul ouerhuise verwyder moet word, sal hier geplaas word totdat hulle na hul ouerhuise of familie kan terugkeer, of oorgeplaas kan word na ‘n Jeugsorgsentrum, verduidelik sy.
Om vir hierdie kinders te kan voorsien is die ondersteuning van die gemeenskap juis nou baie nodig, om te help met die hoë koste van die herstelwerk en veranderinge, sodat dogters en seuns hier geakkommodeer kan word.
“Dit wat jy in jou huishouding nodig het gaan ons in die veiligheidshuis nodig hê.”
Ons het wonderlike donateurs en mense wat reeds ruim uit hul harte gegee het, vertel Sanette en André. Hiervoor is daar groot dankbaarheid, maar die nood vir die bedryf van beide veiligheidshuise is groot omdat daar nie tans enige ondersteuning van Departement Maatskaplike Ontwikkeling of selfs Lotto bydraes is nie.
Wat nou nodig is vir Huis Chrissanloo, is enige tipe boumateriaal wat jy nie meer voor nut het nie of kan skenk. Vier toi-lette, vier storte en vier wasbakke moet ingesit word. Daar is baie loodgieterswerk en elektriese werk nodig. Drie JoJo tenks en drukpompe moet geïnstalleer word. Die hele huis moet oorgedoen en gemeubileer word. Daar is ingeboude kaste en linne nodig, elektriese toebehore, opvoedkundige speelgoed, klimrame, sandputte, fietse, gras en plante om tuin te maak, teëls, staal, sinkplate, plafonne. Enigiets wat op jou hart gelê is om te kan help.


Moenie weggooi nie – Huis Chrissanloo het dit nodig. Of dit ‘n skenking, geldelike hulp, jou tyd of jou gebede is, want vir hierdie kinders sal die huis ‘n tuiste wees, waar hul gekoester sal word. As jy kan help, skakel Sanette by 079 324 0603.
Geldelike skenkings kan inbetaal word by: VVA, FNB Besigheidsrekening, rekeningnomer 63090516065, gebruik die woord ‘veiligheidshuis’ as verwysing.




