Maak plan met dié paaie
Die haglike toestand van die paaie het 'n negatiewe uitwerking op die gemeenskap van Bothaville en sy ekonomiese aktiwiteite. Die dorp is juis weer vandeesweek gasheer vir duisende besoekers wat die Nampo Oesdag sal bywoon.

Ten spyte daarvan dat die ineenstorting van die brug op die S722 in 2024 na swaar reën al by herhaling selfs by die Vrystaatse regering gerapporteer is, is daar nog steeds niks gedoen om die brug te herstel nie.
Die Demokratiese Alliansie (DA) in Lejweleputswa het nou weer ‘n skrywe aan die munisipale bestuurder gerig om dringende ingryping te vra vir die toestand van paaie in Bothaville.
Die haglike toestand van die paaie het ‘n negatiewe uitwerking op die gemeenskap van Bothaville en sy ekonomiese aktiwiteite, sê die party.
Die dorp sal juis weer vandeesweek die gasheer wees vir duisende besoekers, maatskappye en uitstallers wat na die dorp sal stroom vir die jaarlikse Nampo Oesdag op die Oesdagplaas buite Bothaville.
Die DA sê die S722 is j’n belangrike roete vir boere in die distrik wat hulle met nabygeleë plase verbind, en ook vir vervoerdoeleiendes. Die pad word onder meer gebruik om mielies na die silo’s in Bothaville te neem.


Die mieliebedryf vorm die belangrikste basis van Bothaville se ekonomie.
Leerders wat in die gebied woon gebruik die S722 om van verskillende plase na skole te gaan.
Raadslid Thinus Barnard sê die toestand van die brug is ook by die munisipaliteit aangemeld, maar geen aksie is geneem nie.
Die saak is toe aan DA Vrystaatse Wetgewerlid Jafta Mokoena gerapporteer, wat die brug in Mei 2024 besigtig het. Hy het die saak by die relevante strukture aangemeld. Daar is egter steeds geen terugvoer oor watter aksies geneem sal word om die brug te herstel nie, sê hy.



