Gospel Crusade: Gemeenskap verenig in geloof teen misdaad, korrupsie en verslawing
Hierdie is 'n inisiatief deur en ter wille van die gemeenskap om as kerke en geloofsdenominasies in Parys, Tumahole, Schonkenville en Vredefort saam verenig in geloof te staan.
“As gemeenskappe kan ons in geloof verenig om ‘n einde te bring aan wetteloosheid, verslawing, misdaad, geslagsgebaseerde geweld en korrupsie.” Dit is die visie van die Gospel Crusade wat van 27 tot 30 Mei by die Fezile Dabi-stadion in Tumahole gehou sal word.
Ses en dertig kerke uit die groter Parys, Schonkenville, Tumahole en Vredefort gemeenskappe het reeds hul steun gegee vir die gemeenskapsinisiatief om ‘n verskil te maak.

Die visie vir die Gospel Crusade is op evangeliste Emil Wentzel en Hendri Slabbert se harte gelê. Hendri sê dat geloofsleiers die afgelope paar dae saamgewerk het oor kerkgrense heen om mense in geloof te verenig teen dit wat gemeenskappe afbreek.
Slabbert vertel dat 15 evangeliste die week uitreikaksies na skole, staatsdepartemente en besighede in dié dorpe gehou het.
Dinsdagmiddag is daar ook ‘n Pop-up Crusade op die dorpsplein gehou waar woordbediening gedoen is, en sal pop-up crusades oor die volgende paar dae ook op ander plekke gesien word om die evangelie te bedien.

“Ons sien reeds elke dag ‘n groot beweging van die Here in die gemeenskap,” het Slabbert gesê.
Tydens die interkerklike Gospel Crusade sal mense vanaf 17:00 van 27-30 Mei deur die stadion-hekke kan beweeg, en begin die lofprysing, gebed- en woordbediening deur Emil Wentzel om 18:00 op die genoemde datums. Die verrigtinge eindig op die vier dae om 20:00.
Lofprysing word gesamentlik deur die onderskeie kerke wat deelneem, hanteer.
Verskeie instansies en sakeondernemings het reeds hul steun vir die Gospel Crusade gegee, en sal Parys Sekuriteit en die SAPD toesien dat mense veilig sal wees by die stadion, en ook wanneer na en van die stadion beweeg word.
Die stadion is deur die Ngwathe-munisipaliteit vir die geleentheid beskikbaar gestel en kan 14 000 mense akkomodeer.
Daar is geen toegangsgelde nie, en geen wins word uit die Gospel Crusade gemaak nie.
Hierdie is ‘n inisiatief deur en ter wille van die gemeenskap om as kerke en geloofsdenominasies in Parys, Tumahole, Schonkenville en Vredefort saam verenig in geloof te staan.
Vir navrae, kontak: Past. Sandile Khumalo – 073 186 2433; Evangelis Hendri Slabbert – 072 685 1849; Past. Themba Mabunda – 078 119 2223 of Past. Jacob Masike- 072 724 5465.




