Local newsNews

Dis ‘n nuwe Nampo-rekord

Rekordboeke is verlede week by Graan SA se 57ste Nampo Oesdag herskryf met 87 191 besoekers – die meeste nog – wat die Oesdagplaas oor die vier dae besoek het. Met ‘n totaal van 900 uitstallers – sommige van sover as Amerika, Brittanje, Argentinië, Turkye en Brasilië – is reg laat geskied aan die tema, …

Rekordboeke is verlede week by Graan SA se 57ste Nampo Oesdag herskryf met 87 191 besoekers – die meeste nog – wat die Oesdagplaas oor die vier dae besoek het. Met ‘n totaal van 900 uitstallers – sommige van sover as Amerika, Brittanje, Argentinië, Turkye en Brasilië – is reg laat geskied aan die tema, Wêreldwye landbou, Plaaslik.

President Cyril Ramaphosa het in sy persoonlike hoedanigheid as boer op die eerste dag van Nampo ‘n draai op die Oesdagplaas buite Bothaville gemaak, waar hy van die nuutste landbou ontwikkelings en tegnologie, tesame met die uitstekende netwerkgeleenthede wat Nampo bied, eerstehands ervaar het.

Ramaphosa boer met Ankole beeste en het met minder veiligheidspersoneel, tussen besoekers op die Oesdagterrein beweeg waar hy met van die uitstallers gesels het. Dit was die eerste keer in 20 jaar dat hy by Nampo was, en was die president aangenaam verras met wat gereken word as die grootste vertoonvenster van die landbou in die suidelike halfrond.

President Cyril Ramaphosa kyk na ‘n Chianina bees tydens sy besoek aan die Nampo Oesdagplaas. Hier is hy naby die Osprey-stalletjie deur Sonja van Rhyn afgeneem.

Die amptelike regeringsafvaardiging, gelei deur adjunkpresident Paul Mashatile, het in gesprek met die leierskap van Graan SA tydens die Nampo Oesdag hernieude nasionale dialoog gevoer oor die sentrale rol van landbou in die ekonomie.

Tydens hierdie gesprekke het die landbousektor verskeie kritieke kwessies geopper. Dit het ingesluit bekommernisse oor landelike veiligheid, die gebrek aan instandhouding en belegging in infrastruktuur, vertraagde regulatoriese goedkeurings vir gewasbeskerming en saadtegnologieë, die dringende behoefte aan grondbesitsekerheid en titelaktes, en groter belegging in meganisasie en digitale toegang.

Die adjunkpresident het hierdie bekommernisse erken en met sterk ondersteuning gereageer. “Landbou is die ruggraat van Suid-Afrika se ekonomie,” het hy gesê, en bevestig dat voedselsekuriteit nie net ‘n sosiale prioriteit is nie, maar ‘n nasionale ekonomiese imperatief.

“Ons streef nie na grondgrype nie. Ons fokus is op produktiewe grondgebruik, insluiting en transformasie wat groei ondersteun,” het hy gesê.

Mashatile het verder belowe dat plattelandse veiligheid gefokusde aandag sal kry deur ‘n nuwe taakspan wat bespreek word tussen die regering en georganiseerde landbou – ‘n ontwikkeling wat verwelkom is deur Graan SA.

Die opening van nuwe markte deur bilaterale besprekings is ook as ‘n prioriteit uitgelig.

Die adjunkpresident het ‘n kranslegging by die gedenkmuur op Nampo Park gedoen waar 22 nuwe name sedert die 2024 Oesdag bygevoeg is.

Die gedenkmuur is in 1998 opgerig ter herdenking aan boere, hul families en plaaswerkers wat in plaasaanvalle dood is. Van die 22 name wat in die afgelope jaar bygevoeg is, is agt name uit Gauteng, drie van Noordwes, twee van Mpumalanga, ses van die Vrystaat, en twee van KwaZulu-Natal.

Naas Ramaphosa en Mashatile was John Steenhuisen (die minister van landbou), en Dean Macpherson (minister van openbare werke en infrastruktuur) ook onder vanjaar se Nampo-besoekers.

Voertuie het elke dag in kilometer lange rye staan en wag om by die Oesdagterrein in te kom, maar ook die Nampo-vliegveld was die ene bedrywigheid met 377 vliegtuie en 69 helikopters wat oor die vier dae op die terrein geland het.

Die sonnige weer en bykomende dreineringsmaatreëls wat vroegtydig ingestel is om die terrein droog te kry na swaar reën in April in die Bothaville-distrik geval het, het verseker dat die Oesdagplaas weer kon spog met ‘n uitstaande terrein vir uitstallers.
Of dit bakkies, trekkers, die verskeiden-heid veerasse, demonstrasies, 4×4 vernuf, alles vir die jag- en wapenentoesias, kampeer en buitelewe, die damesprogram, of smaaklike wegneemetes was – daar was iets vir elkeen. Van die nuutste en duurste, tot ‘n tikkie nostalgie in Graan SA se Engen Trekkermuseum.
Aan vindingryke planne was daar ook geen gebrek by die bekende boerepatente kompetisie wat entrepreneurs se uitvindsels beloon het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button