Local newsNews

Weerhaan weer op sy pos na windskade

Die oorspronklike kerkgebou is in 1888 gebou en word vandag as die gemeente se kerksaal gebruik. Die huidige kerkgebou is in 1924 voltooi.

Vredefort se weerhaan het weer sy staan gekry op die NG kerk Vredefort se kerktoring. Dié weerhaan en traliewerk is in November verlede jaar tydens ‘n hewige windstorm beskadig, en het die haan aan die kabel van die weerligafleier gehang.

Danksy die kerk se versekering kon dit herstel en gerestoureer word. Dit was ‘n groot bedrywigheid verlede week by dié historiese kerkgebou toe die weerhaan en traliewerk tydens ‘n twee dae lange operasie uiteindelik deur kontrakteur Dolf Smit, eienaar van Rooftop Construction en sy span, teruggesit is.

Dolf spesialiseer in die restourasie van historiese geboue. Hy het ook die historiese kerkgebou in Bosmanstraat, Pretoria, gerestoureer, en die 135 jaar oue Sewende Dag Adventiste Kerk in Kimberley. “Daar moes elke sinkplaat afgehaal word, en nie ‘n enkele een was na al die jare geroes nie,” vertel hy.

“Vredefort se stof kan jy nie van jou voete afskud nie,” gesels Dolf, ‘n boorling van Vredefort wat baie herinneringe koester van die dorp en sy mense. Dit is hier waar hy grootgeword en skoolgegaan het. “Oorkant die kerkterrein is die pastorie in Kaaps Hollandse styl, en net ‘n paar meter daarvandaan was die smutswinkel,” vertel hy verder.
Dolf is ‘n man met ‘n waardering vir geskiedenis. Vele kerke is al deur hom gerestoureer en het hy ‘n rykdom van kennis oor die jare versamel. Hy doen baie versekeringswerk maar sy groot belangstelling is restourasie.

Vredefort se kerktoring is 30m hoog, teenoor die Bosmanstraat kerk se 45m hoë kerktoring, maar Vredefort se weerhaan is nie sommer enige weerhaan nie, beduie hy. Dié weerhaan is langer as 3m waar dit gewoonlik 1,2m is.

Dit het fyn beplanning en voorbereiding geverg om seker te maak als is reg voordat die haan uiteindelik met die hyskraan opgevat kon word om sy staan op die kerktoring te kry.
Voordat daar die oggend begin werk is, het die span voor die kerkgebou gekniel in gebed.

Met die herstel en restourasie is spesiale verf gebruik wat roesbestand is, want Dolf werk met meesterlike presisie- van die fyn beplanning om die weerhaan en traliewerk af te haal, tot die meet en pas om dit weer stewig op sy plek te kry, “Dit moet vir nog 50 jaar hou, want hierdie is ons toekoms, sê hy.

Vredefort se NG Kerk is oor die 100 jaar oud, vertel die gemeenteleraar, ds Hannes Haggard. Die oorspronklike kerkgebou is in 1888 gebou en word vandag as die gemeente se kerksaal gebruik. Die huidige kerkgebou is in 1924 voltooi. Beide is van sandsteen en wil ds. Haggard graag ook die oorspronklike kiaat kerkdeure restoureer tot hul eertydse glorie.

Dolf Smit wys na die koeëlmerke van die oorlog, nog duidelik sigbaar op die sandsteenmure van die kerksaal wat aanvanklik die kerkgebou was.

Teen die kerksaalmure sien jy nog die koeëlmerke van die oorlog, en staan ‘n ou hartbeeshuisie op die kerkterrein.

Die 85-jarige Bettie Saayman met die weerhaan wat nou herstel en pragtig gerestoureer is.

Om die kerk se weerhaan te kon herstel en te restoureer het tyd gevat weens die groot skade wat daar was, maar vir die mense van Vredefort is dié kerk en sy geskiedenis ‘n kosbare kleinood. So vertel Bettie Saayman, die dorp se oudste inwoner, wie se pa, Koos van Tonder daardie jare nog gehelp het om van die klippe van die plaas Kerkklip aan te ry om die kerk te bou. Dit is in die kerk waar haar ouers voorgestel en getroud is en waar sy en haar susters gedoop, voorgestel en getroud is.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button