Jy waag jou lewe met die gate
Saans, en in reën en misweer is die situasie nog gevaarliker op swak onderhoude paaie.
Daagliks sien jy motoriste langs die R59 tussen die N1 en Parys staan met skade aan voertuigbande, maar dit is nie net dié gedeelte van die R59 waar jy moet koes vir die gate nie. Die R59 tussen Parys en Vredefort en duskant Vredefort, is in ‘n ewe haglike toestand.
“Die pad is lewensgevaarlik,” sê Annemarie du Toit, wat die pad daagliks ry. Slaggate duskant Vredefort op die Kroonstad-pad tot by die S-brug is selfs nog dieper, sê sy. Vir mense wat nie die pad ken nie en nie weet waar die gate is nie, is dit ‘n nagmerrie – veral saans, in reënweer of wanneer daar stof is. Du Toit sê niks word aan die gate gedoen nie – dit word net groter en meer.


Wat dit ‘n uitdaging maak om veilig om die gate te kom is verkeer in beide rigtings wat uitswaai vir slaggate, terwyl vinnig bewegende voertuie ook nog stadiger voertuie verbygaan wat letterlik op slakkepas moet ry om die gate te mis.
Du Toit sê daar is geen konstruksiewerkers op die pad nie, en is dit padgebruikers wat die prys betaal.
‘n Kontrakteur is vir maande al besig met herstelwerk van slaggate op die R59 tussen Parys en die N1, maar is ook hier nog baie slegte slaggate.




