Parys-sakeman op N1 gekaap en ontvoer
Die voorval het helder oordag op 'n hoofroete gebeur wat daagliks deur motoriste gebruik word.
In ‘n nagmerrie-drama wat vir hom soos ure gevoel het, is sakeman Reghardt van Niekerk van Parys, Vrydagoggend vroeg op die N1 voor die Vaalrivier-brug deur ses gewapende mans gekaap, ontvoer, en van sy bakkie, gehuurde sleepwa, skootrekenaar, handwapen, horlosie, selfoon en beursie beroof.
Reghardt wat ‘n verkoelingsonderneming bedryf, vertel dat hy die oggend om ongeveer 05:00 van Parys na Pretoria gery het vir besigheid. Net nadat hy die N1-afrit van die R59 gevat het, het ‘n bakkie skiellik vir hom ligte geflits terwyl hy besig was om verby ‘n vragmotor te beweeg. Reghardt vertel die pad was daardie tyd van die oggend stil. “My eerste gedagte was dat ek té stadig was vir die bakkie, en die bestuurder daarom ligte geflits het. Ek het terugbeweeg na die linkerbaan waarop die bakkie voor my inbeweeg het. ”
Intussen het nog ‘n bakkie agter Reghardt inbeweeg en die voorste bakkie begin rem. Hy is van die pad gedruk en tot stilstand gedwing. Ses mans van wie sommige gewapen was, het hom uit sy bakkie geruk en om die voertuig gedwing waar hy geslaan en geskop is. Hulle wou toegang tot sy bankrekenings via sy selfoontoepassings hê.
Reghardt se hande is vasgeband met wat gelyk het soos die ritssluiter van ‘n reflekterende baadjie. Sy eie baadjie is oor sy kop getrek en is hy geforseer om by die agterste sitplekke van sy bakkie in te klim.
Van die verdagtes het in sy bakkie geklim en het hulle begin ry. Hulle het later stilgehou en kon hy hoor dat die sleepwa afgehaak word. Hy is toe uit die bakkie geruk en in ‘n ander voertuig, vermoedelik ‘n Toyota bakkie inforseer.
Telkens wanneer hy sou vra dat hulle moet vat wat hulle wou hê en hom moet los, is hy gesê om stil te bly en gedreig dat hulle hom sou skiet.
Reghardt is later op ‘n grondpad by Henley-on-Klip afgelaai, met sy hande steeds vasgebind. Die verdagtes het met sy bakkie en persoonlike besittings asook sy vuurwapen gevlug.
“Ek kon die baadjie wat oor my kop getrek was afkry, en het begin hardloop na die naaste huis waar lig was. Ek het mense wat op pad was om te ry gevra om my na die naaste polisiestasie te neem.”
Die polisie het by navraag bevestig dat ‘n klagte van kaping na die voorval ondersoek word, maar is geen verdagtes nog sedert die voorval in hegtenis geneem nie.
Reghardt se bakkie is wel in Vosloorus deur die polisie teruggevind asook die gehuurde sleepwa wat langs die pad naby Hersa Afslaers gekry is,. Die staalrame en houtpalette wat Reghardt op die sleepwa gehad het, was steeds daar en kon deur die polisie aan hom terugbesorg word.
Sy persoonlike besittings en vuurwapen is egter steeds soek.
Dit was die eerste keer dat so-iets met hom gebeur, het Reghardt gesê.
Hy is nie ernstig beseer nie en vermoed Reghardt dat die verdagtes hom moontlik agtervolg het toe hy die oggend begin ry het onderweg na Pretoria.
Die voorval is ‘n wekroep vir motoriste dat kapings ‘n realiteit is en in ‘n oomblik gebeur wanneer jy dit die minste verwag, selfs op nasionale roetes wat daaglikis swaar verkeer dra.



