Local newsNews

Van graad 9 tot universiteit: Kies jou vakke strategies vir maksimum APS-punte

Maak seker jy kry goeie en kundige advies van verskeie tersiëre instellings wanneer jy vakkeuses moet maak

Soos graad 9-leerders hul voorberei om vakke vir graad 10  te kies, is dit belangrik om die verband tussen hierdie keuses en hul invloed op die Toelatingspunttelling (APS) in ag te neem. Hierdie sleuteltelling word deur universiteite gebruik om geskiktheid vir toelating te bepaal, en deur ingeligte keuses te maak, kan ouers en leerders hulself strategies posisioneer vir akademiese sukses en toekomstige geleenthede, sê ’n kenner.

Suid-Afrika se openbare universiteite kan slegs ’n fraksie van die jaarlikse aansoekers akkommodeer, wat ’n uiters mededingende omgewing skep. Die APS, wat bereken word uit ’n leerder se beste ses vakke (uitgesluit Lewensoriëntering) in die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS), vorm die grondslag van universiteitstoelating.

Elke vak dra by tot punte op grond van finale eksamenuitslae, wat graad 9 se vakkeuse ’n deurslaggewende besluit maak wat ’n leerder se APS en toekoms direk beïnvloed. Dit is belangrik om daarop te let dat APS slegs op openbare universiteite van toepassing is.

Hoe strategiese vakkeuses APS-punte kan verhoog

Darren Purdon, Akademiese Projekbestuurder by ADvTECH, Afrika se voorste privaat onderwysverskaffer, verduidelik:
“Graad 9 se vakkeuse is ’n kritieke stap in die vorming van ’n leerder se toekomstige APS. Deur vakke te kies wat by hul sterkpunte en belangstellings pas, kan leerders seker maak hul presteer op hul beste, en so hul kanse verbeter om ’n plek by ’n openbare universiteit te verseker.”

Die APS beloon sterk prestasie, maar vakkeuse gaan nie daaroor om die moeilikste vakke te kies nie, sê Purdon, maar eerder die regte vakke. Die belangrikste is om vooraf die regte en kundige advies te kry van watter vakke jy vir die rigting waarin jy belangstel sal benodig nie net vir universiteitstudie nie maar ook vir ander tersiêre inrigtings.

“’n Algemene wanopvatting is dat Wiskunde en Fisiese Wetenskappe verpligtend is vir toelating tot openbare universiteite. Alhoewel dit belangrik is vir rigtings soos ingenieurswese of medies, aanvaar baie ander programme – insluitend geesteswetenskappe, sosiale wetenskappe, besigheid en onderwys – Wiskundige Geletterdheid.”

Purdon wys daarop dat ouers dikwels kinders aanmoedig om Wiskunde en Fisiese Wetenskappe te neem, omdat hulle glo dit is die enigste pad na sukses.
“Hoewel ons altyd aanraai dat diegene wat daartoe in staat is Wiskunde moet volg, kan ’n lae punt in ’n vak waarin die leerder nie sterk is nie, die APS laat daal en geleenthede beperk.”

IEB-kurrikulum en vakafhanklikhede

In die IEB-kurrikulum bring vakafhanklikhede ekstra kompleksiteit in APS-beplanning. Byvoorbeeld, Fisiese Wetenskappe vereis kern-Wiskunde, wat beteken dat ’n skuif na Wiskundige Geletterdheid in graad 11 leerders dwing om Fisiese Wetenskappe te laat vaar en dan noodgedwonge ‘n ander vak moet neem.

Dit kan akademiese vordering ontwrig en APS-potensiaal verlaag weens die uitdaging om nuwe inhoud vinnig aan te leer.
“Dit is hoekom graad 9 se keuses só belangrik is,” sê Purdon.

Purdon sê dat graad 9-leerders, waar moontlik, met analitiese hulpmiddels gehelp moet word om seker te maak hulle het die maksimum APS-telling wat vereis word.

Buite APS: Lewensoriëntering en alternatiewe roetes

Hoewel Lewensoriëntering van APS-berekening uitgesluit is, mag sommige programme – soos Gesondheidswetenskappe – ’n minimum prestasievlak (bv. 80%) vereis. Goeie prestasie in alle vakke, insluitend Lewensoriëntering, help ook met vaardighede soos kritiese denke en veerkragtigheid, wat akademiese sukses bevorder.

“Vir leerders wat nie hoër onderwys beoog nie, kan ’n hoë APS steeds toegang verbeter tot beroepsopleiding – iets wat Suid-Afrika dringend benodig in velde soos konstruksie en vervaardiging,” sê Purdon.

Hy voeg by dat vakkeuse op grond van eksterne druk, eerder as aanleg, tot stres, uitbranding en laer punte kan lei, wat APS direk beïnvloed.
“Wanneer leerders passievol is oor hul vakke, presteer hulle beter, wat weer lei tot ’n hoër APS. Dit verbeter nie net universiteitstoegang nie, maar ondersteun ook geestesgesondheid.”

Purdon sê ouers en leerders moet vakkeuse benader met ’n vaste fokus op APS-optimalisering.
“Deur oop gesprekke te bevorder, gebruik te maak van skole se ondersteuningsisteme, en die regte hulpmiddels in te span, kan gesinne keuses maak wat maksimum APS-punte verseker, en ’n verskeidenheid toekomstige geleenthede ontsluit.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button