Local newsNews

Chrissanloo – nie net ‘n huis, maar ‘n tuiste

Chrissanloo Huis sal op 1 September sy deure open.

In dié huis sal kinderlaggies gehoor word. Klein voetjies sal baljaar in die tuin en op klimrame wanneer Chrissanloo Huis op 1 September sy deure oopmaak. ‘n Veilige hawe vir kinders wat tot nou toe net die skadukant van die lewe leer ken het, en wat weens mishandeling of verwaarlosing noodgedwonge uit hul ouerhuise verwyder moet word. Tot 78% van hierdie kinders kom uit huise waar daar dwelm- en drankverslawing is, en is blootgestel aan erge verwaarlosing en mishandeling.

‘n Hartseer realiteit as jy na die syfers kyk. Drie-en-dertig kinders in die plaaslike gemeenskap wat alreeds tot dusver vanjaar uit ouerhuise verwyder is, en in jeugsorgsentrums in nabye dorpe geplaas moes word, omdat hier geen heenkome vir hulle was nie. Weg van hul skool, en dit wat vir hulle bekend is.
Vir maande is daar gedroom, gebid en gewerk om ‘n huis van veiligheid ook in Parys te kan hê.

Danksy ‘n skenking aan VVA deur die Chris en Susan Prinsloo Trust is dié droom bewaarheid toe ‘n geskikte huis gekoop, en op 1 April aan VVA oorhandig is. Die huis is ook na die egpaar vernoem.

Daarna het die harde werk begin om die huis te kon inrig as huis van veiligheid, en nodige herstelwerk te doen. VVA-voorsitter André Wesseloo se toewyding waarmee oplossings gesoek is vir elke uitdaging, die bestuur van Chrissanloo Huis, en besighede en die gemeenskap van Parys se ongelooflike ondersteuning, het verseker dat dié huis omskep kon word in ‘n ware tuiste waar ‘n maksimum van twaalf kinders tydelik gehuisves sal kan word vir ‘n tydperk van drie maande onder die sorg van ‘n huismoeder.

Na drie maande kan die hof besluit om die kinders terug te plaas in die sorg van hul ouers of familie, of die tydperk in ‘n huis van veiligheid verleng na ses maande. Daarna word die kinders oorgeplaas na ‘n jeugsorgsentrum.

Die huismoeder en bestuurspan van Chrissanloo Huis sal omsien na die dag-tot-dag behoeftes van die kinders en toesig oor die bestuur van die huis. Die bestuurslede is Susan van der Merwe, Arnold de Beer, Frik van Niekerk, Margory Mommsen, Rikki van der Westhuizen en Alicia Marx (voorsitter). VVA sal steeds verantwoordelik wees vir die finansiële bestuur van die huis.

Met die huis wat nou gereed is om die kinders te kan ontvang, is daar ‘n voortdurende behoefte aan toiletware, kinderklere, en veral ook speelgoed vir die kinders. Enige skenkings is welkom en sal ‘n verskil vir hierdie kinders maak. Skenkings kan by VVA se kantoor in Buitenstraat afgegee word, of skakel Sanette by 079 324 0603.

Wat is nou nodig by Chrissanloo Huis?

  • ‘n Kamerastelsel (R34 000)
  • 2 x hekmotors
  • Solar
  • Grassnyer en tuingereedskap
  • Sandput
  • Buitespeelgoed vir kinders
  • Strykyster en strykplank
  • 5 Plaat gasstoof

Huis Lerato

VVA het naas Chrissanloo Huis in Parys, ook die Lerato Huis van Veiligheid in Tumahole, waar agt kinders tans gehuisves word. Huis Lerato het in 2007 sy deure oopgemaak en kan ook ‘n maksimum van 12 kinders huisves. Danksy Lotto-geld wat vir Huis Lerato bewillig is, sal ook dié huis opgeknap word.
Lotto het ook geld bewillig vir VVA se sopkombuis waar tussen 70 en 100 Sassa-pensioenarisse, haweloses en hulle wat deel is van VVA se koeponstelsel daagliks van ‘n bord kos voorsien word.

Sopkombuis

Danksy die skenking sal afdakke en bankies by die sopkombuis geplaas word, en sal die perseel omhein word sodat hierdie mense met waardigheid en beskut teen wind en weer gehelp kan word om minstens een ete ‘n dag te kan hê. VVA se koeponstelsels word in samewerking met die dorp se besighede bedryf waarmee haweloses help skoonmaak in ruil vir ‘n bord kos. Naas die sakekern word by Staycold skoongemaak wat ‘n groot bydrae tot die projek lewer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button