Het gaan verhoog toe: Kans van ‘n leeftyd vir aspirant akteurs
Oudisies word eersdaags gehou vir die rolverdeling van die bekende Het van Verlangekraal wat verhoog toe gaan.
Het Heiberg. Die weggooikind wat Verlangekraal se naam sou verewig. Sy het dit gewaag om in opstand te kom teen ’n rigiede skoolsisteem wat geen rebelsheid of individualiteit sou duld nie. Net meneer Doep het tussen haar en die verderflike skoolhoof meneer Erlank gestaan.
Hierdie geliefde en diep menslike verhaal wys vir die eerste keer Het Heiberg se kant van die saak. Wie in haar lewe saak gemaak het en wat in haar gedagtes omgegaan het. Dit vertel bowenal hoe sy oorleef het.
Leon van Nierop (na die verhaal van Johann Bekker) se Het van Verlangekraal gaan verhoog toe met verhoogteks deur Leon van Nierop. Die regie word waargeneem deur Frans Swart.

Van Nierop se roman, Het van Verlangekraal, het ook pas by Tafelberg Uitgewers verskyn. Van Nierop loop ’n lang pad met “HET”. Hy het die verwerking vir die televisiereeks in 1985 gedoen, die radioverwerking vir RSG in 2022, die roman in 2024 en nou die verhoogteks in 2025.
Van Nierop sê dat hy baie opgewonde is dat Het van Verlangekraal verhoog toe gaan. “Toe Frans Swart van Lefra Produksies my vra of ons HET verhoog toe kan neem, het ek vinnig ingestem, want ek het dadelik besef dat die onmiddellikheid en kompleksiteit van die verhoog, ’n totaal nuwe dimensie aan HET gaan verleen.

’n Verhoogteks het natuurlik heelwat ander uitdagings as tekste vir televisie, radio of romans. Ek moes die karakters verminder en net op die kernkarakters konsentreer, en moes ook moeilike buitemuurse tonele visualiseer om op een verhoog te kon afspeel. Wat ’n lekker uitdaging!
HET se storie is egter so sterk en veral nou weer opnuut relevant, veral as ’n mens kyk na bendeverwante bedrywighede en probleemkinders se dilemmas wat in skole toeneem, dat ek seker is mense gaan in hierdie produksie iets nuuts sien, en die storie uit ’n vars oogpunt benader,” sê hy. “Dit gaan hulle net soveel verras om dit opnuut te ervaar as wat dit my geïnspireer het toe ek dit vir die verhoog verwerk het.”
Frans Swart, regisseur van Het van Verlangekraal sê dat toe hy Leon van Nierop se roman gelees het, hy dadelik besef het dat HET verhoog toe moet gaan. “Leon het ’n ongelooflike lekker skryfstyl, want jy wil nooit sy boeke neersit nie. Natuurlik leef hy al jare met die storie van HET en het ’n puik verhoogteks geskryf wat nuwe interessante dimensies na die karakters en toneel bring.”

Oudisies vir die rolverdeling word op 18 & 19 November in The Basemant Theatre by die Roodepoortteater, Christiaan de Wet-weg 1000, Floridapark, Roodepoort gehou.
Oudisies sal vir die volgende rolle gedoen word:
- Het Helberg | ‘n Rebelse, mishandelde maar hoogs intelligente 17-jarige skooldogter wat rebelleer teen ‘n brutale hoof en onverantwoordelike skoolstelsel in 1961.
- Danie (Doep) du Plessis | Die 35-jarige sagmoedige Afrikaanse onderwyser wat Het probeer rehabililteer en haar uit die verbeteringskool probeer hou.
- Jan Erlank | Die 48-jarige nuwe skoolhoof van Verlangekraalskool waarmee die Departement van Onderwys nie raad het nie en daarom na Verlangekraalskool toe stuur. Met sy argaïese metodes, haat teenoor Het, frustrasie met sy eie tekortkominge en jaloesie teenoor mnr. Doep, dryf hy die skool tot naby sluiting tydens sy openlike oorlog net Het.
- Doorsie Duvenhage | Die 19-jarige boerseun wat deur Erlank na ‘n ander skool oorgeplaas is omdat hy “te dom” is vier ‘n gewone skool. Dit is ‘n spesiale skool vir kinders met probleme soos disleksie waarmee hy geïdentifiseer word. Hy wil eendag ‘n nar in die sirkus word en raak verlief op Het nadat die skool hom gerehabiliteer en reggehelp het met sy disleksie.
- Floors Helberg | Het se 55-jarige sliertige en werklose alkoholis-pa verwaarloos sy vrou en 6 kinders. Hy is dranksugtig en slaan Het onnodig. Hy verwaarloos sy huishouding, maar het ‘n diepgaande begeerte om teruig te keer spoorweë toe as masjinis omdat hy sy werk tevore daar v erloor het omdat hy drink was tydens diens.
- Mart du Plessis | Doep se 33-jarige steunpilaar vrou, sterk van inbors, ‘n uitstekende onderwyseres en ‘n soort indirekte ma-figuur vir Het. Sy is standvastig, maar raak toenemend bekommerd oor die invloed van Het op Doep wanneer sy hom uitmergel, en die stres wat dit op hul huwelik plaas.
- Mathilde van Eck | Een van Het se 17-jarige skoolmaats wat uit ‘n ryk, vooraanstaande huis kom en Het probeer verstaan. Sy het ‘n bewondering vir Het, maar word deur haar geboelie. Haar skoolwerk lei hieronder. SY is verlief op Doorsie.
Belangstellende akteurs en aktrises moet aansoek om oudisie doen op die volgende aanlyn vorm: https://www.emailmeform.com/builder/form/l03b8L6n6v226SB115xzo
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 12 November om 24:00. Aansoeke is onderhewig aan vooraf keuring en nie alle kandidate sal genooi word vir oudisies nie. Daar sal ook slegs met suksesvolle kandidate gekommunikeer word.
Vir meer inligting, skakel vir Charl Senekal by 011 815 3000 of epos aan admin@lefra.com



