Local newsNews

Drie tekens dat jou remme aandag nodig het

Benewens jou remblokke moet jy seker maak jy gaan jou remvloeistof gereeld na.

Daar is min dinge meer skrikwekkend as om in ’n noodsituasie rem te trap net om uit te vind jy het geen remme nie.

Maar remme faal nie oornag nie, sê die Tyre, Equipment, Parts Association (TEPA). Daar is altyd waarskuwingstekens, en dit is nalatig om dit te ignoreer, veral as jy in ag neem dat 35% van alle motorongelukke veroorsaak word deur ’n band wat bars net voor die ongeluk.

Dylan Petzer, TEPA se nasionale visevoorsitter, verduidelik dat remprobleme stadig insluip. Dit begin wanneer jy die pedaal al hoe verder moet trap om dieselfde rem-effek te kry. Hierdie “sponsagtige” of “lang” pedaal is die klassieke teken.

“As die remvloeistof laag is, voel die pedaal soos om op ’n nat spons te trap en dit sak gevaarlik naby aan die vloer. As dit remblokke is, voel die pedaal hard soos klip en die motor wil eenvoudig nie stadiger gaan nie. Op ’n lang rit, veral af teen ’n bergpas, is dit ’n kode-rooi paniektoestand wat teen alle koste vermy moet word.”

Wat gebeur werklik wanneer remprobleme ontstaan?

Dis eenvoudige fisika – remme is energie-omskakelaars. Jou enjin verbrand brandstof om kinetiese energie (beweging) te skep. Om te stop, verander jou remme daardie beweging terug in hitte-energie.

Hulle doen dit deur wrywing – die remblokke druk teen ’n draaiende metaal skyf (die rotor). Hierdie proses skep ’n enorme hoeveelheid hitte.

Remvervaging gebeur wanneer die wrywingsmateriaal op die remblokke warmer raak as waarvoor dit ontwerp is, en dan nie meer behoorlik aan die skyf kan “gryp” nie. Die stelsel word oorlaai met hitte en kan dit nie vinnig genoeg afvoer nie.

Petzer sê die grootste fout wat motoriste maak met remonderhoud, is om die remvloeistof te ignoreer.

“Almal bekommer hul oor remblokke omdat jy kan sien as dit dun word. Maar daardie bottel remvloeistof absorbeer intussen stadig water, verlaag sy kookpunt en berei hom voor om jou op die slegste moontlike oomblik te faal.

“Remvloeistof is ’n diensitem. Dit moet elke twee jaar heeltemal gespoel en vervang word, ongeag die kilometers.”

Petzer verduidelik ook waarom stadsbestuur en bergpasse of langafstandbestuur (selfs wanneer ’n karavaan of sleepwa gesleep word) heeltemal verskil.

Stadsbestuur: Jy rem by ’n robot, ry vir ’n minuut, rem by ’n stopstraat, ry vir 30 sekondes. Jou remme kry dus heeltyd kans om lekker af te koel tussenin.

Bergagtige of langafstandbestuur: Wanneer jy afry teen ’n lang, steil pas of ’n swaar karavaan sleep, “ry” jy voortdurend op die remme om spoed te beheer. Die remme genereer hitte sonder enige tyd om af te koel. Jy vra hulle om die energie van ’n twee-ton (of drie-ton met sleepwa) voertuig vir minute aanmekaar te absorbeer. Uiteindelik bereik hulle hul termiese limiet en gee op.

Wat is die alternatief vir om aanhoudend op die remme te ry? Gebruik jou ratte, sê Petzer.

“Wanneer jy teen ’n steil heuwel afry, moenie die hele tyd op die rem trap nie – skakel eerder af na ’n laer rat. Laat die enjin se natuurlike weerstand die spoed beheer. Só doen die enjin die meeste van die werk en bly jou remme koel, vars en gereed vir wanneer jy dit regtig nodig het.”

Drie tekens dat jou remme hulp nodig het:

  1. Warm remme gee ’n skerp, branderige reuk af. As jy af teen ’n pas ry en dit ruik, trek dadelik af en laat die remme minstens 30 minute afkoel.

  2. ’n Giergeluid dui gewoonlik daarop dat die ingeboude slytwysers aandui dis tyd vir nuwe remblokke. ’n Skuurgeluid is erger – dit beteken metaal teen metaal en beskadig jou rotors.

  3. Vibrasie deur die pedaal of stuurwiel wanneer jy rem, beteken dikwels dat die rotors kromgetrek is, gewoonlik weens vorige oorverhitting.

“Die feestyd is om die draai, en dit beteken lang ritte, swaar vragte en warm weer,” waarsku Petzer. “Om seker te maak jou reis is 100% veilig, besoek ’n geakkrediteerde werkswinkel vir ’n voor-vakansie voertuiginspeksie – insluitend jou remme en remvloeistof.

“Om met jou geliefdes te vertrek in ’n voertuig met twyfelagtige remvermoë is onverantwoordelik en kan lewens kos. Maak seker jou motor is net so gereed vir die vakansie soos jy is,” sluit Petzer af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button