Parys Meesters skitter op die baan
Parys se middel- en langafstandatlete wen almal goud in hulle onderskeie items by die ACNW Provinsiale atletiekkampioenskap.
Meestersatlete van Parys Multisport het Saterdag aan die ACNW Provinsiale atletiekkampioenskap by die McArthur Stadion in Potchefstroom deelgeneem.
Reandi Bronkhorst (V35) behaal ‘n derde plek in die 100m met ‘n tyd van 13.17 sekondes, sowel as ‘n tweede plek vir verspring met ‘n afstand van 4.34m. Eddie Bronkhorst (M45) behaal tweede plekke in beide die 100m met ‘n tyd van 12.89 sekondes, en verspring met ‘n afstand van 5.02m.


Pierre Fourie (M45) eindig in die eerste plek vir die 100m met ‘n tyd van 12.70 sekondes, en sluit sy deelname aan die byeenkoms af in ‘n derde plek vir verspring met ‘n afstand van 4.85m.
Die middel- en langafstandatlete wen almal goud in hulle onderskeie items.
Carmen Da Silva (V45) wen haar goud in die 800m-item met ‘n tyd van 3:03.53. Eugene Martins (M65) wen die 5000m met ‘n tyd van 24:21.71. Koos Letsobe (M35) maak sy eerste verskyning as ‘n Meestersatleet en wen die 1500m met ‘n tyd van 4:58.77, sowel as die 5000m met ‘n tyd van 17:54.21.

Die meesters baan- en veldseisoen het nou amptelik afgeskop, en die uitslae van die afgelope naweek dui op goeie vooruitsigte vir die 2026 seisoen, sê Pierre Fourie van Parys Multisport.
Die volgende baan- en veldbyeenkomste hervat weer vroeg in die nuwe jaar.
Atlete oefen reeds hard ter voorbereiding van die Meesters Nasionale Kampioenskappe wat gedurende Mei by die Germiston-stadion aangebied sal word.



