Local newsNews

Effek van Bek-en-klou verwoestend vir boere, waarsku TLU SA

TLU SA sê samewerking tussen boere, veeartse en die staat kan die rampspoedige ekonomiese gevolge van bek-en-klouseer vir boere beperk

Die situasie met Bek-en-klouseer uitbrake in die land, maar veral in die Vrystaat, raak onuithoudbaar met toenemende druk op boerderye en landelike gemeenskappe waarsku TLU SA.

Die organisasie sê die realiteit is dat boere wat binne die 10 km-kwarantyngordels val,  feitlik tot stilstand gedwing word omdat geen vee verskuif mag word voordat die gebied weer Bek-en-klou vry verklaar is nie –  iets waarvoor daar geen tydraamwerk of duidelikheid is nie. Hierdie onsekerheid maak dit vir boere feitlik onmoontlik om finansiële beplanning te doen, veral waar banklimiete reeds bereik is.

Die organisasie sê verder die boer op die grond beleef die hantering van hierdie staatsbeheerde siekte se uitbreking op ’n wyse wat finansieel verwoestend is met geen teken van ommekeer nie.

Hoewel die Minister van Landbou, John Steenhuisen,  vroeër aangekondig het dat inentings sal plaasvind, sê die organisasie dat geen duidelikheid gegee word oor wie die koste sal dra, hoe die regulering sal geskied of waar die entstowwe vandaan sal kom nie.

“Die amptelike aankondigings en beloftes is ver verwyder van die werklikheid wat boere daagliks ervaar, waar die kloof tussen beleid en praktyk al hoe groter, en die gevolge al hoe ernstiger word.”

“Boere begin nou in ’n skaakmat-situasie beland. Die banke soek terugbetalingsdatums vir oorskryding-aansoeke, maar dit is iets wat eenvoudig nie gegee kan word nie,” sê Bertus van der Westhuizen, voorsitter van TLU SA Vrystaat.

Sodra die kwarantyngordel ingestel word, word boere se hande gebind. Intussen stap die kostes voort, terwyl geen inkomste gegenereer kan word nie.

Daarom dring TLU SA nou daarop aan dat vergoeding vir die duur van die kwarantyn onmiddellik oorweeg word.

In ‘n verklaring wys die organisasie daarop dat speenkalwers wat dringend bemark moes word, nou agterbly omdat hulle nie verskuif mag word nie, wat lei tot kuddes wat die drakrag van plase begin oorskry. “Dit skep ’n weidingkrisis en verhoog die risiko van siekteverspreiding binne kuddes. Die staat moet verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie bestuursfoute en die gevolge daarvan vir boere en hul lewensbestaan,” is gesê.

Die organisasie sê ook die feestyd bring verdere potensiële spanning met veediefstal wat jaarliks in Desember toeneem.

Van der Westhuizen waarsku voorts dat die impak van die kwarantyne nie tot plase beperk is nie. “BKS begin die platteland ekonomies erg raak. Dit raak skole, besighede, kerke en dan ook die boer wat in ’n knelband vasgevang word,” sê hy. “Motorhawens lei daaronder omdat bakkies nie meer gediens word nie; die kettingreaksie is reeds sigbaar.”

TLU SA het gevolglik ’n ernstige beroep op die departement van landbou gedoen om  werkbare, tydelike oplossings te oorweeg. Van der Westhuizen sê TLU SA Vrystaat wil konstruktief saamwerk met die ministeriële taakspan wat die mandaat opgelê is vir BKS-beheer. “Ons is oortuig daarvan dat organisasies soos TLU SA, wat die werklikheid op grondvlak ken, sinvolle bydraes kan lewer en praktiese oplossings kan help vorm wat beide biosekuriteit en ekonomiese oorleefbaarheid in ag neem,” het Van der Westhuizen gesê.”

TLU SA sê ook hy bly toegewyd aan sy mandaat om boere te beskerm en te verteenwoordig, en sal alles binne sy vermoë doen om oplossings te bevorder wat die voortbestaan van landbou in Suid-Afrika verseker.

“BKS is ’n ernstige uitdaging, maar met tydige samewerking tussen boere, veeartse en die staat kan die rampspoedige ekonomiese gevolge beperk word, het die organisasie gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button