Die storie van Fabriekstraat se mandjiefabriek
Besoekers was toegelaat om te kom kyk hoe die “rottang” artikels vervaardig word
In ‘n poging om die uiterste armoede na die Anglo Boereoorlog (ABO) te probeer verlig, het plaaslike besigheidsmense in Parys inisiatief geneem om klein fabrieke in Parys te vestig.
Een van die fabrieke wat na die oorlog begin is, was ‘n mandjiefabriek.
Mandjies en rottangmeubels, veral die ou kenmerkende diep rottangstoel op die stoep, was hierdie tydperk baie gewild en meeste was vervaardig in Worcester deur die blindes. Die groot afstand Kaap toe het uiteraard die meubels duurder gemaak, feitlik onbekostigbaar vir die reeds verarmde bevolking.
‘n Mandjiefabriek in Parys is toe begin deur ‘n Engelsman, ene Leach.
Alle materiaal wat nodig was vir die vervaardiging van mandjies en meubels was plaaslik naby Parys verkry.
Jong lote van twee soort Wilgerbome is gebruik wat dan gevleg is soos rottang.
Rosyntjiebos en Katwilger is as latte gebruik.
Uitheemse Wilgerbome (Salix Lasiandra en Salix Caprea) is vir hierdie doel aangeplant in die Ozier Plantasie.
Op die walle van die Vaalrivier, in die turfgrond, groei steeds oorblyfsels van hierdie plantasie.
Die jong lote is gesny, in ‘n sloot met water gelê om dit soepel en buigbaar te hou en dan met ammoniakgas berook om dit ‘n bruin kleur te gee, soortgelyk aan díe van rottang.
Daarna was dit dan gereed om gevleg te word. Mandjies, stoele en tafels is vervaardig in die Mandjie-Fabriek.
Die Mandjie-Fabriek was ‘n reuse sukses. Die vakmanskap was na bewering selfs beter as die Madiera rottangwerk.
Leerlinge in rottangwerk is voortdurend opgelei. In 1920 het 15 werkers voltyds vlegwerk gedoen. Hierdie vlegwerk was baie vermoeiend op die hande van die werkers.
Besoekers was toegelaat om te kom kyk hoe die “rottang” artikels vervaardig word.
Die fabriek was in Fabriekstraat in Parys, in ‘n gebou gehuisves wat eers deel van ‘n pompstasie was vanwaar krag deur Parys versprei is. Later is hierdie gebou gebruik deur ‘n besigheid wat dakplate gerol het (1970).
Ongelukkig bestaan hierdie mandiefabriek lank nie meer nie.


Van die meubels en mandjies is nog deel van die Parys Museum uitstallings.
(Bronne: Parys Museum. Internet. Facebook.)



