Local newsNews

Boeke vir die Kerskous

Boeke is die ideale Kersgeskenk. er is voorstelle vir elke lid van jou gesin vir genotvolle leesure oor die Desember-vakansie.

As jy nog hande in die hare sit oor wat om in die Kerskous te sit, kan jy gerus kyk na hierdie boeke wat die perfekte Kersgeskenk vir jou hartsmense kan wees.

Lottie Brooks-reeks

Vir meisies is die Lottie Brooks-reeks ‘n heerlike geskenk! Die topverkoperreeks is geskryf deur Katie Kirby, en meesterlik in Afrikaans vertaal deur ons eie Parysenaar, Zelda Bezuidenhout.

Lottie is amper 12, en gaan deur al die dinge waardeur jong meisies van haar ouderdom gaan. Sy beleef pynlik patetiese oomblikke oor belangrike dinge – soos om hoërskool toe te gaan, bra te dra, skoolkonserte, puisies, bestie-vriendskappe en crushes te navigeer. Meiseis van 9 tot 12 sal die boeke en die vlymskerp humor daarin geniet.

Bestel sommer al twee:
Die pynlik patetiese lewe van Lottie Brooks
Die verbysterende bestie-blapse van Lottie Brooks

Wie de hel is Johnny Joubert? Notas van ‘n rugbyliefhebber, deur Dana Snyman

Die boek is die ideale geskenk vir die man of pa in jou lewe wat van rugby hou.
Dana Snyman sê dat rugby hom nog nooit wou uitlos nie, en dis waarom hy hierdie versameling kortstories oor rugby geskryf het. Dis in Dana se kenmerkende, toeganklike styl geskryf, en die stories is soms vol humor, soms vol nostalgie en altyd vol menslikheid.

In Dana se eie woorde: ‘n Mens sou kon sê ek het op rugby verlief geraak met dieselfde geesdrif as waarmee ek op Elma Theron verlief geraak het, sonder om vrae te vra. Die dag toe ek Elma die eerste keer gesoen het, het die Leeus teen die Springbokke op Loftus gespeel. Die dag toe Ma oorlede is, het WP teen Grens op Nuweland gespeel … Rugby sê iets oor my jeug én my oudword. Dis ‘n gedeelte van my storie hier op aarde. – Dana Snyman.

Die Grafdigter, deur Gerda Taljaard

Lesers sal Gerda Taljaard ken as ‘n skrywer wat die innerlike lewe en emosies van haar karakaters ondersoek. Sy skryf met diepte, gebruik vars beelde en byna elke sin is ‘n stukkie woordkuns waaroor sy baie deeglik nadink voordat dit op papier beland. Die Grafdigter speel af in Rusland en is soos haar ander boeke anders en onvoorspelbaar.

Op die agterblad lees ons: Mila Kozlowa is ‘n Moskouse psigoterapeut wat tydens beradingsessies sit en fantaseer oor geroosterde salm en seks. Sy dink ook aan haar kinderjare – sprokiesagtige besoeke aan ‘n afgeleë hut in ‘n berkewoud saam met haar ouma Babusja.

Nou is Babusja oud en verswak en Mila is verantwoordelik vir haar. Wat steek haar ouma vir haar weg? Waar is Mila se ouers? Het hulle regtig tydens ‘n ruimtereis verdwyn? Die boek is vir enige leser wat dieper wil dink oor die lewe en al sy fasette.

Déjà vu deur Chanette Paul

Chanette is een van ons land se mees geliefde skrywers, en met Déjà vu verstaan mens weer waarom. Chanette weet hoe om lesers uit die slaap te hou omdat sy jou boei tot op die laaste bladsy.

Boekvoorblaaie
Boeke bly altyd ‘n wenner as dit kom by Kersgeskenke

Die verhaal gaan oor die Sheldons van Sheldon Manor en soos altyd bring Chanette Paul al die elemente bymekaar wat sorg vir ‘n goeie storie: interessante, realistiese karakters, drama, familiegeld, donker geheime en ‘n bietjie liefde.
Die perfekte boek vir vrouens vir die kersvakansie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button