‘n Viering van die kunste en kunstenaarstalent lok wye belangstelling
Kunstenaars wie se werke die aand uitgestal is, het ook hul stories, passie en inspirasie kom deel.
Die werke van 19 kunstenaars, van wie sewe plaaslike kunstenaars, het kunsliefhebbers van heinde en ver onlangs bymekaar gebring met die opening van die Lourens van Wyk Kunsgalery by Moments Square in Parys se hoofstraat. Dit was ‘n gesellige aand van saamwees wat die verskeidenheid en talent van kunstenaars gevier het.
Die galery bestaan sedert 2011, maar was aanvanklik bekend as die Ben van Wyk Kunsgalery, genoem na die kunstenaar Ben van Wyk. Met Ben se dood in 2020, is die onderneming in ‘n aanlyn-rigting gedruk, vertel sy seun, Lourens, self ook ‘n bekende plaaslike kunstenaar.

“Maar dit was die interaksie met die publiek wat hulle gemis het,” vertel Lourens en sy vrou Elzaan – interaksie tussen kunstenaars en kunsliefhebbers wat juis weer gesien is met die opening van die galery.
Die egpaar het ook inisiatief geneem om in 2025 die Parys Kunstevereniging te stig, wat ‘n platform skep vir kunstenaars uit verskeie genres om die kunste te bevorder.
Sowat 100 mense het die openingsaand bygewoon waar van die kunstenaars wie se werke te sien was ook hul stories, passie en inspirasie kom deel het.

Die aand het die behoefte na meer soortgelyke kunservarings vir die gemeenskap onderstreep en word soortgelyke geleenthede wat ook lede van die Parys Kunstevereniging sal betrek, vir die nabye toekoms beplan.
Kunstenaars en kunsliefhebbers kan by die kunsvereniging aansluit om deel te wees van wat beplan word vir die jaar.
As jy deel wil word van die Parys Kunstevereniging, skakel Elzaan by 064 308 4764, of stuur e-pos na parysartsassociation@gmail.com of elzaanvanwyk21@gmail.com.



