Local newsNews

Emosionele welstand van onderwysers – byna 50% verlaat die professie binne vier jaar

Die SAOU het ’n hulplyn in plek gestel wat dien as onmiddellike krisisondersteuning.

Wanneer ’n mens lees dat 68% van Suid-Afrikaanse werknemers sukkel met stres, met baie wat uitbranding ervaar, en dat afwesigheid as gevolg van depressie die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks sowat R19 miljard kos, is dit duidelik dat stres en die gepaardgaande geestesgesondheidskwessies ‘n wesenlike probleem met uiters negatiewe gevolge is.

Een van die beroepe waar dit veral die afgelope jare al hoe meer ondervind word, is die onderwys. Ons onderwysers sukkel emosioneel en baie van hulle sien geen ander uitweg as om te bedank en van beroep te verander nie.

Vandag se onderwyslandskap lyk baie anders as vroeër. Onderwysers word opgesaal met administratiewe take, nuwe reëls en regulasies en meer en die gevolg is dat die werklike opvoedingstaak agterweë bly.

Onderwysers moet nou ook twee keer dink voordat hulle ’n kind dissiplineer en konflik moet grootliks vermy word.

Oorvol klasse met leerders uit verskillende agtergronde en leerbehoeftes – die sogenaamde inklusiewe klaskamer – dra verder by tot die probleem en dit is soms haas onmoontlik om orde te handhaaf en kennis oor te dra, gegewe die omstandighede.

Geen wonder dan dat soveel toegewyde onderwysers liewer ander weivelde soek nie. Geen mens kan daagliks aan soveel stres blootgestel word en steeds heel anderkant uitkom nie.

Daarom is dit so belangrik dat ons met deernis en begrip na ons onderwysers sal omsien, want sonder hulle lyk die toekomsprentjie maar redelik donker. Dit is juis ons onderwysers wat help om volwaardige grootmense te kweek. Mense wat hulle plek in die lewe kan volstaan.

Werklading

Onderwysers se taaklys is so lank dat daar nie genoeg tyd is vir behoorlike onderrig nie. Behalwe die gewone take soos lesbeplanning, assesserings, buitemuurse aktiwiteite en meer, verhoog die onderwysdepartement se “klem op aanspreeklikheid en prestasiemeting onbedoeld die druk op onderwysers” en word daar na skool ure lank spandeer aan administratiewe take sodat daar min tyd oorbly vir rus of ’n gesinslewe.

Inklusiewe en diverse klaskamers

In baie skole is klaskamers oorvol en omdat daar nie onderskeid gemaak word tussen leerders en hul spesifieke leerbehoeftes en emosionele of gedragsuitdagings nie, word onderwysers verder blootgestel aan stres.

Die groot rede vir hierdie stres is bloot omdat hulle nie noodwendig opgelei is om hierdie kwessies te hanteer nie.

Daar is dikwels ook ’n gebrek aan hulpbronne en spesialisondersteuning en dit lei weer tot frustrasie en ’n gevoel van magteloosheid. Individuele aandag en gehalte onderrig kan nie plaasvind nie en daar heers oor die algemeen chaos. Die gevolg is dat onderwysers uiteindelik uitbrand.

Dissipline

Leerders se sogenaamde regte en gebrek aan verantwoordelikheid en genoegsame respek veroorsaak dat dit dikwels onmoontlik is om behoorlike dissipline te handhaaf.

Dit is gewoonlik enkele leerders wat die chaos veroorsaak, maar ongelukkig ly almal daaronder – juis omdat daar nie genoegsame ondersteuning is om die skuldiges vas te vat nie – wat ook al die rede vir hulle gedrag is. Baie leerders het eintlik hulp nodig en hulle gedrag is waarskynlik ’n hulpkreet, maar hierdie gespesialiseerde hulp is nie beskikbaar nie.

Fokus op dit wat saakmaak

Beter pnderwys berus op die welstand van sy onderwysers. Daarom moet daar gepoog word om klaskamers kleiner te maak, die administratiewe pligte van onderwysers af te skaal, voldoende opleiding en ondersteuning te verskaf sodat onderwysers sal weet hoe om inklusiewe onderwys te hanteer.

Wat sê die kundiges?

Wilna van Rooyen, vroeë kinderontwikkelingspesialis by die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), beaam dat inklusiewe onderwys beslis ’n bydraende faktor is vir uitbranding.

“Ekstra take eis sy tol. So byvoorbeeld moet onderwysers deesdae bydra tot die opvoeding wat higiëne van leerders betref, hulle moet die ouer se taak oorneem om die leerders van dissipline te leer, respekvolle gedrag moet ingeoefen word – eise wat ouers stel, is ook ‘n groot faktor.

“Wat sport betref, vereis ouers watter posisie en in watter span ‘n kind moet wees, in plaas van om die onderwyser te vertrou. Sodanige gedrag plaas groot spanning op die onderwyser se skouers. Dis veral die eise wat buite die kurrikulum lê, wat die onderwysers uitput.”

Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, is dit eens dat die emosionele welstand van onderwysers inderdaad relevant is en dit daarom noodsaaklik is om hieroor te praat en oplossings daarvoor te kry.

Volgens Potgieter het die AON hande geneem met die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) om hulp te verleen. Die onlangse verslag oor die Stand van Afrikaanse Onderwys het ook kommerwekkende statistiek getoon.

“Amper 50% van beginneronderwysers verlaat die professie binne vier jaar, juis omdat hulle nie meer weet watter kant toe nie, ” sê Potgieter.

So ook toon statistiek uit die SAOU se Welstandprogram dat ingryping oor die welstand van onderwysers noodsaaklik geword het. Die SAOU het daarom ’n hulplyn in plek gestel wat dien as onmiddellike krisisondersteuning en om psigo-opvoedkundige strategieë en inligting te bied.

Van die probleme wat aangemeld word, sluit in: werkverwante uitdagings soos dissipline, klasgrootte en administratiewe las, stres en angs, trauma, interpersoonlike konflik en selfs selfdoodneigings.

Volgens Potgieter is hierdie maar die ore van die seekoei. Onderwysers in leierskaprolle is minder geneig om hulle emosionele welstand te bespreek of om raad te vra. Veral skoolhoofde kan nie wys dat hulle “swaarkry” nie, want hulle is immers vir die welstand van hul personeel en leerders verantwoordelik en wil dus nie erken dat hulle ook hulp nodig het nie.

Suid-Afrikaanse Onderwysers Unie (SAOU) Help

Die SAOU Welstandprojek is ’n eerste van sy soort. “Ons glo dat die welstand van ons onderwysers die hoeksteen van ’n sterk onderwysstelsel is, en ons is trots om op ’n sinvolle, praktiese manier ons onderwysers by te staan. Hierdie projek bied ’n holistiese ondersteuningstelsel wat poduitsendings, video’s, selfhelp-hulpbronne en ’n 24/7-noodkrisislyn vir onmiddellike emosionele bystand insluit.”

As jy ’n onderwyser is wat ’n oor nodig het of net nie meer weet waar om aan te klop vir hulp nie, skakel gerus die SAOU se hulplyn. Alle oproepe en boodskappe is gratis en word vertroulik en met die grootste omsigtigheid hanteer.

* WA – stuur ’n WhatsApp-boodskap aan 064 609 1150.
* Noodlyn – word 24 uur per dag beman. Skakel 012 436 0911
– (Bron: Afrikaans.com)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button