VL waarsku teen dieselprys-manipulasie
Vir boere is diesel 'n kritieke inset in landbouproduksie.
Vrystaat Landbou (VL) sê hy sal nie toelaat dat boere uitgebuit word deur opportunistiese prysmanipulasie of brandstofvoorraadbeperkings gedurende ‘n tyd wat landbou reeds onder druk is nie.
Na aanleiding van die eskalerende konflik tussen die Verenigde State van Amerika en Iran wat reeds internasionaal kommer laat ontstaan het oor brandstontwrigtings, sê die organisasie hy is bewus van gevalle waar grootmaatbrandstofverskaffers diesel van boere weerhou in afwagting van prysstygings.
Vir boere is diesel ‘n kritieke inset in landbouproduksie is, wat aanplanting, oes, besproeiing en die vervoer van voedsel oor die land aandryf. Enige beduidende stygings in dieselpryse of ontwrigtings in die voorsiening van diesel kan ‘n domino-effek op Suid-Afrikaanse landbou en voedselsekerheid hê wat weer kan bydra tot hoër voedselpryse vir verbruikers, het VL vandeesweek gewaarsku.
Die konflik het reeds aansienlike wisselvalligheid in globale olie- en dieselmarkte veroorsaak, met ontwrigtings in belangrike skeepvaartroetes soos die Straat van Hormoes – waardeur ‘n aansienlike deel van die wêreld se olievoorraad normaalweg beweeg.
Hierdie ontwikkelings stoot internasionale brandstofpryse op en verhoog die risiko van ontwrigtings in die voorsieningsketting, het Vrystaat Landbou president, Francois Wilken gesê.
Wilken sê hoewel die Suid-Afrikaanse regering aangedui het dat daar tans geen onmiddellike brandstoftekort is nie, bly die land hoogs afhanklik van ingevoerde geraffineerde brandstofprodukte. “Dit stel die landbousektor en die breër ekonomie bloot aan skielike prysskokke en moontlike voorraadbeperkings indien die konflik verder sou eskaleer,” het hy gesê.
Vrystaat Landbou sê hy monitor ontwikkelings in globale brandstofmarkte en hul potensiële impak, en sê die organisasie hy sal voortgaan om met belanghebbendes te skakel om die stabiliteit van Suid- Afrika se voedselproduksiestelsel te beskerm.



