Local newsNews

“‘n Lang pad, maar Hy dra ons dag na dag”

Die skakel vir die Back-a-Buddy fondsinsameling vir Amanda is https://www.backabuddy.co.za/campaign/amanda-neethling

“Sy is moeg. Party dae voel oorweldigend. Maar God hou haar styf vas elke tree van die pad. Selfs in die moeilikste oomblikke is Hy haar krag wanneer haar eie krag min raak.”

Vir Amanda Neethling (40), graad drie onderwyseres van Primêre Skool Parys lê daar nog ‘n lang behandelingspad teen servikale kanker voor. Donderdag sal sy die derde van ses gekombineerde chemoterapie-behandelings gekry, Elke behandeling – agt en ‘n half ure lank. Ure van moed, uithouvermoë en geloof.

Na voltooiing van dié ses chemo-behandelings wat Amanda met tussenpouses van drie weke oor ‘n tydperk van ongeveer vier maande sal kry, sal ses immunoterapie-behandelings elke drie weke volg.
Vir haar is chirurgie nie meer ‘n opsie nadat fase 3 kanker in Januarie vanjaar by haar gediagnoseer is – minder as 14 maande na haar vorige behandelingspad toe kanker die eerste keer in Augustus 2024 by haar gediagnoseer is.

Na die aanvanklike diagnose het ‘n radikale histerektomie gevolg, en het sy toe bestraling en chemoterapie tegelykertyd gekry. In Maart 2025 is sy vir haar opvolg PET-skandering, en is daar skaars drie maande na die behandeling ‘n donkerkol in die kliere aan die regterkant van haar pelvis opgetel. In Mei verlede jaar is sy geopereer om die kliere te verwyder en is geen kanker gekry nie.Na die pelvis-operasie het ‘n dowwe pyn egter in haar regterbeen begin.

Dokters was nie bekommerd nie omdat dit nie vreemd is om senuwee-sensasie na so ‘n operasie te hê nie.

In Augustus 2025 was sy weer vir ‘n ondersoek waar steeds niks opgetel is nie, maar teen September was die pyn so intens dat sy nie kon slaap nie.

In November is sy na ‘n ortopeet toe die pyn eens so erg was. ‘n MRI-skandering het ‘n donkerkol aan die regterkant van die pelvis uitgewys en is sy terugverwys na die onkoloog.

Deur haar maande lange stryd was daar telkens die vrae. Die onsekerheid. Die wag op antwoorde en toetsuitslae.

“Jy leer geduld. Jy leer om te wag. Jy leer vertrou. Jou angstigheid word anders. Jy kan vra waarom ek, maar dan weer waarom nie ek nie?”

Teen Desember was morfien nodig om die pyn onder beheer te bring. Die eerste twee weke het die morfien haar siek gemaak. Eers later het verligting gekom. Dokterspraktyke was gesluit oor Desember, en eers in Januarie het die antwoorde gekom na nog ‘n PET-skandering.

Fase 3 kanker. Die gewas so groot soos ‘n tennisbal en nog ‘n kleiner een agter hom was die rede vir die ongemak en pyn in haar heup, been en tot in haar voet.

Amanda Neethling waar sy Vrydag haar tweede chemoterapie behandeling gekry het.

Die behandeling wat Amanda moet kry word nie volledig deur haar mediese fonds betaal nie. Een van die chemoterapie behandelings wat in kombinasie gegee word, sowel as die immunoterapie behandeling word nie betaal nie. Die chemoterapie-behandelings wat nie betaal word nie, kos sowat R28 000 per behandeling, terwyl R88 000 per behandeling vir die immunoterapie nodig is.

Danksy mense se omgeeharte is nou net oor die R360 000 van die R750 000 wat nodig is, ingesamel.
“Julle liefde en geloof beteken meer as wat woorde kan sê. Hou asseblief aan om Amanda in jul gebede te dra terwyl sy hierdie stryd met genade en moed aanpak,” het Amanda se man, Paul, die afgelope week gesê.

Vir elke gebed wat opgaan, elkeen wat bydra tot die BackaBuddy-veldtog wat Amanda se behandeling moontlik maak, en elke boodskap van bemoediging is daar oneindige dankbaarheid vir die liefdevolle ondersteuning van mense. “Dit, en Sy genade alleen hou ons staande.”

Die skakel vir die Back-a-Buddy fondsinsameling vir Amanda is https://www.backabuddy.co.za/campaign/amanda-neethling

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button