Goliat van pampoene kom toe uit Meyerton se wêreld
’n Rekordtotaal van 4 342 kg pampoene - die meeste nog - is by vanjaar se Goliat van Gat Pampoenfees ingeweeg
Wykus Lamprecht van Meyerton het met sy indrukwekkende pampoenbielie van 653 kg en ’n skorsie van 492,3 kg, met die louere weggestap by vanjaar se Goliat van Gat Pampoenfees. Hoewel die gesogte 1 ton-pampoen nie bereik is nie, is ’n rekordtotaal van 4 342 kg pampoene – die meeste nog – ingeweeg tydens die 22ste pampoenfees wat in Pretoria gehou is.
In die ware gees van gemeenskapsdiens word al die pampoene wat by die kompetisie ingeweeg word aan welsynsorganisasies in en om Pretoria geskenk.

Lamprecht het ook uitgestaan met ander inskrywings, waaronder ’n tamatie van 1 kg, ’n waatlemoen van 16,2 kg en ’n murgpampoen van 23,8 kg.

Die naaswenner was Pieter Botha van Pretoria met sy pampoen, Poeksie wat die skaal op ‘n allemintige 562 kg laat staan het, terwyl Jacky Smal van Sundra die derde plek behaal het met ’n pampoen van 549,4 kg.
Die junior wenner (onder 6 jaar) was Dirkie Smal, met ’n pampoen van 133 kg.
Die Goliat van Gat-kompetisie is amptelik geregistreer by die Great Pumpkin Commonwealth, wat beteken dat dit ’n erkende inweegpunt in Suid-Afrika is. Die wenners en gewigte word saam met resultate van pampoengroei-kompetisies regoor die wêreld op die organisasie se databasis aangeteken.

Ongeveer 2 500 besoekers het vanjaar se fees bygewoon, wat vir die eerste keer by die Lavender Kontrei Mark aangebied is. Daar was verskeie prettige aktiwiteite soos pitspoeg-kompetisies en pampoenresies, wat groot vermaak vir oud en jonk gebied het.
Die sanger Pieter Koen se lewendige optrede het ook tot die vrolike atmosfeer bygedra en die dag se vieringe opgehelder.
Die pampoengeregte-kompetisie is beoordeel deur kenners van Steyn’s Culinary School in Hatfield, Pretoria, saam met Willie Strauss, en die beoordelaars het lof gehad vir die kreatiwiteit en kwaliteit van die disse.
Die wenners van die pampoengeregte-kompetisie was:
- 1ste plek: Nic Neveling | Pampoenbier (Ale)
- 2de plek: AJ Taljaard | Pampoenpiekel
- 3de plek: Mathilda Nel | Pampoentert
Die wenpampoen van 653 kg word tans uitgestal by Uitkyk Vleismark, waar belangstellendes dit self kan gaan besigtig.
Finale uitslae | Goliat van Gat 2026:
- Wykus Lamprecht (Meyerton) | 653 kg
- Pieter Botha (Pretoria) | 562 kg
- Jacky Smal (Sundra) | 549,4 kg
- Cornelis Bester (Heidelberg) | 452,8 kg
- Dirk Smal (Sundra) | 434,8 kg
- Alida Bester (Heidelberg) | 336,8 kg
- Bester Hattingh (Fochville) | 237,4 kg
- Petrus Mare (Fochville) | 131,4 kg



