Local newsNews

Vredefort se Anna Stok was ‘n legende

Sy was net een van daardie omgeemense wat altyd ander se belange eerste gestel het.

Jy’t nie verby haar huis in Meerholtzstraat regoor die skool gery sonder om eers te groet nie. Haar rooi motor wat sy self nog self bestuur het, was ‘n bekende gesig in Vredefort se strate. Oor ‘n ouetehuis wou sy nie aan dink voordat sy 90 was nie, en waar sy kon gee, het sy gegee en gehelp. Nooit het sy aan haarself gedink nie, en jy kon weet dat sy altyd vir Vredefort en sy mense bid.

Dit was Annatjie van Wyk. ‘n Deernisvolle, opregte omgeemens wat op 28 Februarie op 90-jarige ouderdom oorlede is by haar seun, André, in Vaalpark.

“Dit was asof die Here haar net kom haal het – nie ouetehuis toe nie, maar huis toe,” het Marlene Brüssow vertel wat vir jare die pad saam met haar geloop het.

Annatjie is in Parys gebore en het hier begin skoolgaan. Later is sy na die handelskool in Potchefstroom. In daardie tyd het haar ouers die slaghuis in Vredefort oopgemaak en het hulle ook grond in die distrik gehad. Haar ouers en haar oupa en ouma het in die huise langs die slaghuis gewoon.

Annatjie is getroud met Wally van Wyk en is al drie die egpaar se kinders in Vredefort gebore. Aanvanklik het hulle in Markstraat gewoon, en het sy na die dood van haar man en ouers na die huis in Meerholtzstraat verhuis wat haar ouers gekoop het toe die slaghuis verkoop is. Daar het sy die afgelope 30 jaar saam met haar katte gewoon.

Annatjie het aanvanklik in die destydse Handelshuis in Vredefort gewerk, en toe by FC & H in Parys. Daarna aanvaar sy ‘n pos by die koöperasie en het ook vir jare by Vredefort se munisipale kantore gewerk.

Sy was ‘n raakvat mens, netjies en deeglik. Iemand wat ewe knap met die naald as in die kombuis was.
Op 82 het sy uiteindelik die tuig neergelê nadat sy vir nege jaar skriba by Vredefort se NG Klipkerk was, maar toe dit by aftree kom was dit ‘n gestoei, want stilsit was nie in haar aard nie.

Sy’t altyd gelag, maak nie saak hoe swaar sy sou kry nie. Haar kinders alleen grootgemaak na Wally se dood. Nooit siek gewees nie, en al het haar hartsmense geweet die tyd word min soos die jare aangestap het, was haar dood ‘n skok vir hulle wat haar liefgehad het.

Annatjie van Wyk. Foto: Verskaf
Annatjie van Wyk. Foto: Verskaf

Vanjaar sal tannie Annatjie se plek leeg wees om die tafel waar blomme gevou word vir die dorp se Kruistog-vlot. By Hart-en-Siel waar ‘n ete elke week vir haar reggesit is, sal haar dankbare woorde nie meer gehoor word nie.

Op 7 Maart is haar troosdiens deur ds. Hannes Haggard vanuit die Klipkerk gelei – daar waar sy Sondag vir Sondag in die middelblok gesit het.

Sy word naas haar kinders, deur haar sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders oorleef, en ‘n gemeenskap wat haar innig liefgehad het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button