Local newsNews

Tyd min om te besluit oor Eskom-ooreenkoms

Eskom sal sy finale besluit oor Ngwathe se lot op 24 April bekend maak.

Die uurglas is besig om leeg te loop vir die Ngwathe Raad om ‘n besluit te maak oor ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms (DDA) met Eskom.

Die kragverskaffer het verlede week in ‘n publieke kennisgewing sy voorneme bekendgemaak om teen 8 Mei grootmaat elektrisiteitsvoorsiening aan die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit te onderbreek, of te verminder, mits gehoor gegee word aan die opsies wat Eskom op die tafel gesit het.

Een hiervan is dat die Ngwathe raad voor 27 Maart moet besluit oor ‘n DAA-ooreenkoms, of alternatiewelik dat Eskom die munisipaliteit se elektrisiteitsvoorsiening omskakel na voorafbetaalde elektrisiteit waar Eskom net krag voorsien gelykstaande aan wat die munisipaliteit kan bekostig. Nog ‘n alternatief is ‘n ooreenkoms tussen Ngwathe en Eskom waarvolgens munisipale verbruikers Eskom direk betaal vir krag teen Eskom-tarief.

Ngwathe skuld Eskom ‘n verstommende byna R3 miljard.

Ngwathe se munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, het Dinsdagoggend gesê dat die munisipaliteit op 13 Maart samesprekings met die Nasionale Tesourie oor die munisipaliteit se Eskom-skuld gevoer het.

Mothamaha het gesê Ngwathe se Finans-komitee sou vandag (19 Maart) vergader vir bespreking van die DAA-ooreenkoms, waarna die burgemeesterskomitee vroeg volgende week sal vergader om ‘n voorlegging aan die raad te finaliseer. Volgens Mothamaha sal die raad dan moet vergader om ‘n besluit te neem oor die DAA-ooreenkoms, voor die sperdatum wat Eskom gegee het vir Ngwathe om die nasionale tesourie van sy besluit in kennis te stel.

Vir ‘n gewone raadsvergadering moet minstens vyf dae vooraf kennis gegee word, en vir ‘n spesiale raadsvergadering 48 uur. Teen Gazette se druktyd was daar nog nie kennis aan raadslede gegee vir ‘n raadsvergadering nie, buiten die geskeduleerde raadsvergadering op 31 Maart.

Mothamaha het verder gesê dat grootskaalse optrede reeds deur die munisipaliteit onderneem is om onwettige koppelings en die brug van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters aan te spreek, en dat die munisipaliteit ook in die proses is om meters by besighede te installeer om die probleem aan te spreek.

Verspreidingsagentskapooreenkomste is een van die IRFA-georiënteerde ingrypings wat Eskom toelaat om munisipaliteite by te staan met dienste soos tegniese vaardigheidsontwikkeling, instandhouding en bedryf van die munisipale netwerk, bestuur van energieverliese, prys- en tariefstrukture, die faktureringsfunksie, asook inkomste- en invorderingsbestuur.

Eskom het in Februarie 2025 ook ‘n publieke kennisgewing vir Ngwathe geplaas maar is optrede teen dié en ander wanbetalende munisipaltieite op die nippertjie afgeweer ná die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa se voorstel vir verspreidingsagentskapooreenkomste tussen Eskom en finansieël benoude munisipaliteite wat enorme bedrae aan die kragreus skuld.

Ten spyte van verskeie gesprekke wat gevoer is, het Ngwathe die afgelope jaar nie sover gekom om die ooreenkoms te teken nie. Ngwathe was ook in Desember 2023 tot die Nasionale Tesourie se skuldverligtingsprogram toegelaat, waarmee Eskom kwalifiserende munispaliteite se skuld oor drie jaar sou afskryf, onderhewig aan streng voorwaardes, onder andere dat die munisipaliteit voortaan sy lopende rekening vir grootmaatvoorsiening binne 30 dae ten volle moes betaal om te verhoed dat die skuld bly groei.

Pleks hiervan het Ngwathe se agterstallige skuld met R1 215 686 657.41 toegeneem sedert die datum waarop die munisipaliteit tot die program toegelaat is. Die Nasionale Tesourie het op 22 Februarie die munisipaliteit kennis gegee dat sy deelname aan die skuldverligtingsprogram teen 1 April beëindig sal word, tensy die munisipale raad teen 27 Maart besluit om ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms met Eskom aan te gaan.

Publieke kommentaar teen die Eskom kennisgewing sluit 13 April. Stuur dit na FSNgwathe@eskom.co.za of na 120 Henry Street, Westdene, Bloemfontein, 9300, vir aandag van die Senior Adviseur: Sleutelverkope en Kliëntdiens.

Eskom sal sy finale besluit oor Ngwathe se lot op 24 April bekendmaak.

Intussen is ‘n gemeenskapspetisie begin om Eskom te vra om die opsie te oorweeg dat inwoners en besighede direkte betalings aan die kragreus maak vir elektrisiteitsverbruik teen die Eskom-tarief, Volgens Marisa Louw sal die petisie op 12 April aan Eskom gestuur word voor die sperdatum vir publieke kommentaar.

Die skakel vir die petisie is https://forms.gle/1CQpM22DKXhV1aK28

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button