Local newsNews

Lig in Ngwathe se Eskom skuldtonnel, ná besluit oor ooreenkoms

Eskom het dit duidelik gestel dat die munisipaliteit sy lopende rekening moet betaal terwyl partye die Verspreidingsagentskap-ooreenkoms finaliseer.

Grootmaat elektrisiteitsvoorsiening na die Ngwathe-dorpe (Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville) sal nie op 8 Mei deur Eskom onderbreek of verminder word nie.

Die kragreus het vandeesweek sy besluit amptelik bekendgemaak in ‘n publieke kennisgewing (sien bl. 28 & 29), nadat die Ngwathe Raad op 27 Maart ‘n besluit aanvaar het om ‘n Verspreidingsagentskap-ooreenkoms (Distribution Agency Agreement / DAA) met Eskom aan te gaan.


“In hierdie opsig bly die onderbreking/vermindering van die grootmaat-elektrisiteitsvoorsiening opgeskort, onderhewig aan die munisipaliteit wat sy lopende rekening moet betaal terwyl partye die Verspreidingsagentskap-ooreenkoms finaliseer,” het die kragreus gesê.


Eskom het ook die versekering gegee dat hy alle geskrewe voorstelle, kommentaar en/of versoeke wat voor die sluitingsdatum in die vorige publieke kennisgewing ontvang is, sorgvuldig oorweeg.


Skuldlas het oor jare bly groei


Eskom het vroeër vanjaar in sy publieke kennisgewings vir Ngwathe wat in Maart gepubliseer is, gesê dat ten spyte van herhaalde pogings om in te gryp by Ngwathe se skuld dit oor jare sedert 2009 opgebou het tot ‘n verstommende byna R3 miljard.


Verspreidingsagentskapooreenkomste


Eskom het in Februarie 2025 soortgelyke kennisgewing as in Maart vanjaar uitgereik vir Ngwathe, en ander wanbetalende munisipaliteite, maar het die Minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, toe gekom met ‘n voorstel vir ondertekening van verspreidingsagentskapooreenkomste (DAA) tussen Eskom en munisipaliteite wat groot bedrae aan Eskom skuld.

Die poging was om volhoubare oplossings vir munisipaliteite te vind wat elektrisiteitsverwante finansiële probleme ondervind. Die voorstel het gevolg na ‘n vroeëre reddingsboei van die Nasionale Tesourie om sukkelende munisipaliteite te help toe daar in Maart 2023 ‘n skuldverligtingsprogram bekendgestel is.

Daarvolgens sou Eskom kwalifiserende munisipaliteite wie se aansoek tot die program aanvaar is, se skuld oor drie jaar afskryf, onderhewig aan voorwaardes, onder andere dat die munisipaliteit voortaan sy lopende rekening vir grootmaatvoorsiening binne 30 dae ten volle moes betaal.


Ngwathe is in Desember 2023 tot die skuldverligtingsprogram toegelaat, maar is versuim om aan die voorwaardes van die program te voldoen wat sou verhoed het dat skuld verder groei. Pleks hiervan het Ngwathe se agterstallige skuld met R1 215 686 657.41 toegeneem sedert die datum waarop die munisipaliteit tot die program toegelaat is, het Eskom in sy Maart-kennisgewing bekendgemaak.


Die gevolg was dat die Nasionale Tesourie op 22 Februarie die munisipaliteit kennis gegee het dat sy deelname aan die skuldverligtingsprogram teen 1 April beëindig sal word, tensy die munisipale raad teen 27 Maart besluit om ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms met Eskom aan te gaan.


Die ooreenkoms is een van die IRFA-georiënteerde ingrypings wat Eskom toelaat om munisipaliteite by te staan met dienste soos tegniese vaardigheidsontwikkeling, instandhouding en bedryf van die munisipale netwerk, bestuur van energieverliese, prys- en tariefstrukture, die faktureringsfunksie, asook inkomste- en invorderingsbestuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button