Ligte bly aan in dié VS munisipaliteite, maar donker dae kom vir Lindley, Petrus Steyn en Reitz
Kragvermindering vir die Nketoana Plaaslike Munisipaliteit sal op 8 Mei begin, het Eskom vandag aangekondig.
Die wanbetalende Nala, Masilonyana en Ngwathe Plaaslike Munisipaliteite het Eskom se implementering van onderbreking van grootmaat kragvoorsiening na die dorpe wat deur dié munisipalteite bedien word, vrygespring nadat ingestem is tot ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms (DAA) met Eskom. Maar vir die Nketoana Plaaslike Munisipaliteit wag daar donker dae met grootmaat kragvoorsiening aan die dorpe Lindley, Petrus Steyn en Reitz, wat vanaf 8 Mei twee keer per dag onderbreek sal word.
Eskom het vandag aangekondig dat die Nketoana dorpe vanaf 8 Mei daagliks tussen 07:00 en 09:00 en tusssen 18:00-21:00 sonder krag sal wees. Dit volg nadat dié munisipaliteit volgens Eskom geen poging aangewend het om ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms met die kragvoorsiener aan te gaan nie.
Kennisgewings
Eskom sê kennisgewings is ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Wet 3 van 2000) op 6 Maart gepubliseer waarin die kragvoorsiener sy voorneme van kragvermindering/onderbreking na die wanbetalende munispaliteite uiteengesit het, en die opsies gegee is waaraan voor die sperdatum voldoen moes word. Een van die opsies was dat die munisipale raad ’n Verspreidingsagentskapsooreenkoms (DAA) met Eskom sal sluit.
Eskom sê verder ná oorweging van openbare voorleggings wat ontvang is oor Eskom se voorneme om Nketoana se elektrisiteitstoevoer te onderbreek, het die kragvoorsiener tot die gevolgtrekking gekom dat die voorleggings nie ’n oplossing bied wat Eskom in staat sal stel om volhoubaar voort te gaan met die verskaffing van grootmaat-elektrisiteit aan Nketoana nie.
Verder het die munisipaliteit versuim om óf ’n raadsbesluit te neem om ’n DAA met Eskom aan te gaan, óf ’n vooruitbetalings-ooreenkoms te sluit waarvolgens Eskom slegs die hoeveelheid elektrisiteit lewer wat die munisipaliteit kan bekostig, óf ’n reëling te tref waarvolgens die munisipaliteit se kliënte Eskom direk vir hul elektrisiteitsverbruik betaal.
’n Brief waarin die munisipaliteit in kennis gestel is van Eskom se voorneme om die toevoer te onderbreek, is op 23 April gestuur. ’n Kennisgewing in dié verband is daarna op 24 April in die Journal News gepubliseer, en ’n herhalingskennisgewing sal op 29 April in die Vrystaat Kroon-koerant verskyn, het Eskom gesê.
Lopende rekeninge moet betaal word
Wat die Nala, Ngwathe en Masilonyana munisipaliteite betref, het Eskom dit egter baie duidelik gestel dat in die lig van die genoemde munispaliteite se besluit om verspreidingsagentskapooreenkomste met Eskom aan te gaan, bly die onderbreking/vermindering van die grootmaat-elektrisiteitsvoorsiening opgeskort, onderhewig daaraan dat die munisipaliteite hul lopende rekeninge betaal terwyl die partye die ooreenkomste finaliseer.



