So onthou ek Mimi: ‘Ek het ongelooflik baie by haar geleer
Die sopraan Mimi Coertse was op verhoë oor die wêreld gehoor en is wyd gerespekteer.
Een van Suid-Afrika se grootste opera-legendes, die sopraan Mimi Coertse, is Maandagaand in haar slaap by haar huis in Pretoria oorlede. Sy was 93 jaar oud.
Van haar bekendste rolle wat sy vertolk het was dié van die koningin van die nag in Mozart se opera, Die Towerfluit, wat sy meer as 500 keer op verhoë oor die wêreld gesing het.
Van kleins af was haar droom om te kon sing, en is sy op 21-jarige ouderdom oorsee. Sy was 23 toe sy permanent by die Weenste Staatsopera aangestel is. Daar sou sy sing van 1956 tot 1973, en het haar stem in vele lande en tale gehore bekoor.
Onder die toekennings wat sy in haar loopbaan ontvang het, was ‘n eremedalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns in beide Suid-Afrika en Oostenryk, en ook die titel Kammarsangerin in Oostenryk.
Sy was op haar dag van die wêreld se beste koloratuur-sangers of te wel soprane wat die hoogste note sing, en is onder meer ook saam met die tenoor Luciano Pavarotti op die verhoog gehoor.
Bekroonde tenoor Stefan Louw van Parys onthou die eerste keer wat hy vir Mimi sien optree het. Dit was in ‘n produksie van Die Vrolike Weduwee by die Pretoriase Staatsteater in die tagtigerjare. “Ek het as kind gereeld saam met my ma na operas en musiekblyspele gaan kyk.”
“Terwyl ek ‘n lid van die Pretoria Staatsteater Operakoor was, het van die koorlede ‘n klassieke sanggroep, Get Real, gestig. Mimi het gereeld saam met ons opgetree,” vertel Stefan.
“Ek onthou een spesifieke konsert in die Mussaion by die Pretoriase Universiteit. Mimi was besig om O mio babbino caro uit te voer toe ‘n verhooglig bokant haar ontplof. Sy het nie ‘n enkele noot gemis nie. Dit was in die laat negentigs.”
Stefan het sy solodebuut in 1998 gemaak. en het kort daarna in die gesogte Debuut met Mimi-konsert opgetree. “Dit was elke jong operasanger se droom om gekies te word om daaraan deel te neem,” vertel Stefan.
Kort daarna het hy sy FNB Vita Opera-toekenning ontvang vir Beste Nuweling in Opera.
Nadat die Transvaalse Raad vir Uitvorende Kunste (TRUK) rondom 2 000 ontbind is, het operaregiseur Neels Hansen en Mimi ‘n klassieke groep gestig as platform waar jong sangers verhoogblootstelling kon kry. Stefan was een van die eerste sangers wat gekies is om deel te wees van die Black Tie Ensemble. “Hier het Mimi musikale direksie verskaf, en ek het ongelooflik baie by haar geleer,”

Stefan onthou met heimwee die laaste keer toe hy haar gesien het, was toe sy ‘n konsert bygewoon het waarin hy opgetree het. Dit was in Mei 2019 by die Atterbury-teater in Pretoria.
“Mimi het diep spore getrap in die harte en lewens van elke operasanger wat vandag op die verhoog staan – plaaslik en in die buiteland,” het Stefan in sy huldeblyk aan Mimi Coertse gesê.



