“Stories soek my op, meer as wat ek na hulle gaan soek’
Daniël Lotter se nuutste pennevrug - Waar die Lammers nie suip nie - is 'n ware verhaal - een wat hy self beleef het.
Skrywer en akademikus, Daniël Lötter is veral bekend vir sy boek oor eksentrieke karakters, getiteld Dwars. Uit sy pen het ook boeke oor spoke verskyn, getiteld, Ware spookverhale van Suid-Afrika, en Gedaantes en gedoentes.
Ek het met Daniël gesels oor sy nuwe boek, Waar die lammers nie suip nie.
Dit was vir my groot nuus toe ek hoor dat jy ‘n roman aangepak het, want jy is bekend vir jou kortverhale, staaltjies en korter kontreistories.
Was dit vir jou moeilik om die sprong na ‘n roman te maak?
Dit was eerder avontuurlik as moeilik. Natuurlik moes ek ander benaderings volg. Karakters het heelwat meer ruimte vir interaksie en ontwikkeling gehad en het derhalwe heelwat meer prominent na vore getree. (En soms baie moeilik geraak om in toom te hou!)
Om eerlik te wees, geniet ek hierdie genre. Dit is nie suiwer fiksie nie. Daar is nog ‘n element van die genre waarmee ek veilig voel.

Is Waar die lammers nie suip nie ‘n ware verhaal?
Absoluut. Een wat ek as klein seuntjie self beleef het en met die nagevolge van saamgeleef het tot ten minste 2010.
Dit lyk asof jy ware stories raakloop so ver jy gaan. Waar kry jy jou stories en hoe besluit jy watter om te vertel?
Ek was tussen 1998 en 2003 verbonde aan Suid-Kaap Stereo op Oudtshoorn en daarna in latere jare ook in Londen. Uit my agtergrond in die uitsaaiwese het ek heelwat stories opgetel, opgeteken en bygehou. So ek het ‘n redelike argief van stories. Ek lees ook soms in ou boeke of dokumente ‘n sin of twee, begin torring daaraan tot ek ‘n rafel kry. en vat die spoor. En voor jy jou kom kry het jy ‘n fantastiese storie!
Ek is juis nou besig met so ‘n storie. Ek is gelukkig in daardie opsig – stories soek my op, meer as wat ek na hulle gaan soek.

Wat is die agtergrond van Waar die lammers nie suip nie?
My pa was die ondersoekbeampte in die saak, en het ‘n afskrif van die dossier gehou. Nadat die algemeen bekende weergawe (sedert 1977) in 2010 met ‘n nuwe onthulling skielik ‘n ander koers ingeslaan het, het hy die dossier vir my gegee en ek het besluit dit is ‘n eg Suid-Afrikaanse storie wat kommentaar lewer op ons samelewing van destyds, en nou. En dit moet vertel word, nie as my kommentaar nie, maar as At en Mietjie s’n.
Ons praat hier van die jare van die Ontugwet toe verhoudings, en veral seksuele verkeer, tussen mense van verskillende rasse tronksake beteken het.
Teen dié sosiale agtergrond en oortuigings was dit goed wat eerder verswyg is omdat dit heelwat stigmatisering tot gevolg gehad het.
Wanneer so ‘n voorval so brutaal en ongenaakbaar in die openbaar ten toon gestel word, boonop met tragiese gevolge, het die skokgolwe daarvan in ‘n klein gemeenskap enorme implikasies. Kortliks: daar is vir baie jare oor gepraat, geskinder, besin – ook in ons gesin met my pa se direkte betrokkenheid as ondersoekbeampte in die saak.
Hoe skep jy ‘n karakter wat op ‘n werklike persoon gebaseer is?
Ek bly so na aan die waarheid as moontlik. Saakdossiere, hofverslae, koerantberigte – dit is goeie bronne, maar dit is feitelik en onpersoonlik.
Mondelinge vertellinge help om dimensie aan die persoon te gee. Ek het gaan gesels met die mense wat daar was en wat nog leef.
Al daardie inligting meng en klits en klop jy totdat ‘n persoon uit die woorde na vore kom. En dan gee jy hom / haar deur dialoog, denke en aksies lewe. Dis ‘n heerlike proses.
Die verhaal speel af in die 1970’s, toe mense se taalgebruik, opvattinge en denkwyses baie anders was as nou.
Hoe het jy jouself in daardie milieu ingedink om die boek te kan skryf?
Fraserburg is ‘n Karoodorpie in die Nuweveldse Karoo tussen Sutherland, Loxton, Merweville en Beaufort- Wes. My ma se familie boer al vir geslagte daar en ek is daar gebore. My pa was polisieman op die dorp en ek het tot in Standerd 5 daar skool gegaan. In ‘n sekere sin het ek dus grootgeword binne die konteks van die tyd en ruimte waarbinne die storie plaasgevind het.
Ek was daar, so ek onthou dit goed. Om eerlik te wees het bitter min sedert daardie tyd op die platteland verander. Uitkyke en standpunte dalk, maar ‘n volledige ommekeer van ‘n gevestigde samelewing en sy manier van doen verander nie binne twee of drie geslagte nie. Ek het nie nodig gehad om in te dink nie, net te onthou en waar te neem.
Hoe lank het jy aan hierdie boek geskryf?
Omtrent drie maande. Ek skryf nie elke dag nie. Ek doen eers deeglike navorsing en wanneer ek begin, kan ek vir tot 16 ure lank voor die rekenaar sit tot dit klaar is.
Waaraan werk jy volgende?
My volgende boek is reeds klaar en verskyn in Augustus. Dit is ‘n ware verhaal uit die 1830’s oor die vrystelling van slawe in die Hantam. Ek doen tans ook navorsing vir ‘n Kaapse storie uit die 18e eeu.



