Local newsNews

Pont maak plek vir wa-brug oor rivier

Die eerste verkeer het op Kersdag 1915 oor die brug beweeg.

Die brug oor die Vaalrivier in Van Collerstraat waarna ook as die Potchefstroom brug vandag verwys word, was destyds bekend as die wa-brug en is vanjaar 111 jaar oud.

In die beginjare van Parys was daar bykans geen verbinding tussen die Vrystaat en Transvaal nie behalwe die ou pont oor die Vaalrivier. Die gevolg was dat handelsmoontlikhede beperk was.

Die bou van die pont het ook nie sonder stampe stote gekom nie, en was daar aanvanklik baie teenkanting hiervoor van belastingbetalers in Parys.

In 1910 is uiteindelik toestemming aan ‘n mnr. C.J. de Beer gegee vir die bou van ‘n drywende pont oor die Vaalrivier met ‘n deurgang oor Boseiland wat gebruik is. ‘n Ossewa kon gemaklik met die pont oor die
rivier beweeg.

Daar was twee driwwe deur die rivier – een naby aan waar die Riviera Hotel vandag is, en die ander een hoër op naby die ou meules langs die rivier. Die los klippe wat by die driwwe gepak was, het telkens wanneer die Vaalrivier in vloed was, weggespoel. Dan moes gewag word tot die rivier se watervlak genoeg gesak het voordat die rivier oorgesteek kon word.
Dit was ook die rede waarom De Beer die pont oorspronklik wou bou.

Nadat die raad toestemming gegee het, is besluit dat die pont se landingsplek in De Villiersstraat sou wees waar O’s Restaurant vandag is. Vir die eerste ruk is daar nie huur gevra nie, maar later was die huurgeld R10 per jaar, en moes selfs tolgeld betaal word tussen Transvaal en die Vrystaat.

‘n Skrynwerker by name Piet Gouws het die werk aan die pont gedoen.


Die pont is met stewige kabels gekoppel.


Daar was egter ‘n tyd wat die Transvaalse eienaar van die pont geweier het om meer vir De Beer landingsregte te gee, en moes De Beer die besigheid aan hom verkoop.

Baie wou egter steeds ‘n brug oor die Vaalriver hê omdat gevoel is dat die pont diens onbetroubaar was.

Ben Keulder, ‘n destydse burgemeester van Parys, afgeneem met die brug oor die Vaalrivier in die agtergrond. Foto: Transnet Heritage Library, Johannesburg
Ben Keulder, oud-burgemeester van Parys, afgeneem met die brug oor die Vaalrivier in die agtergrond.
Foto: Transnet Heritage Library, Johannesburg

In dokumente uit die Parys Museum word selfs vertel van ‘n wa wat as vriendskapsgebaar geruil is, wat glo bygedra het tot die besluit om die brug oor die Vaalrivier te bou.

Planne vir die bou van die brug is uiteindelik goedgekeur met dr. C.J. van der Merwe en mnr. B. van der Hoven wat baie hiertoe bygedra het.

Teen einde 1913 is aansoeke ingewag en die kontrakteur, P.J.F Warren, aangestel. Daar is in Mei 1914 begin bou aan die brug wat teen ‘n koste van R32 000 opgerig is en binne ‘n jaar voltooi moes word.

Die destydse sandpad op die brug oor die Vaalrivier op die Van Collerstraat 
verlenging wat ook bekend was as die wa-brug. Foto: Parys Museum
Die destydse sandpad op die brug oor die Vaalrivier op die Van Collerstraat verlenging wat ook bekend was as die wa-brug. Foto: Parys Museum

Die brug moes 1 600 voet lank wees en is in dele van 40 voet elk gebou.

Op Kersdag 1915 kon verkeer die eerste keer oor die brug ry, maar van die beplande
amptelike opening in 1916 het niks gekom nie.

In 1916 het Parys se munisipale raad ‘n voorstel van Publieke Werke se departement in Bloemfontein aanvaar om elektriese ligte op die brug aan te bring, en het die departement die installasie gedoen. Een van die lampe wat destyds op die brug gebruik is, het ‘n plek in die
dorp se museum gekry.

In 1921 het Publieke Werke Departement die pad oor die brug geteer, en is gemeen dat die brug toe een van die langste betonbrûe in Suid-Afrika was. Soos die spoorlyn na Parys, het die brug handel aansienlik vergemaklik veral vir boere van Lindequesdrift, Venterskroon en Buffelshoek, en ‘n direkte bydrae gelewer tot die groei en uitbreiding van die dorp.

Die brug het aanvanklik net ‘n enkelbaan gehad, maar is in later jare verbreed na ‘n dubbelbaan. Voordat dit verbreed is, was dit soms ‘n hewige bakleiery tussen die Vrystaters en die Transvalers oor wie eerste oor die brug kon gaan, en wie dan moes wag.

Hierdie berig vorm deel van Parys Gazette se bylaag ter viering van Parys se 150ste bestaansjaar. Jy kan die volledige bylaag lees by https://www.citizen.co.za/parys-gazette/epapers/parys-150-jaar/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button